Local newsNews

Kerk in die knyp, maar hoop beskaam nie

Kerke is wêreldwyd swaar getref deur die streng maatreëls wat Covid-19 teweeg gebring het.

“Bid asseblief vir leraars en kerke om deur hierdie tyd te kom,” het ds. Pieter Malan, leraar van die Afrikaanse Protestante Kerk in Bela-Bela, in ’n gesprek met Die Pos gesê.

Leraars en gemeentes het sedert Maart aansienlike opofferings en aanpassings gemaak.

Aanlynkerkdienste het die norm geword en beperkings op kerkbywoning het ander uitdagings gebring.

“Om die kerkgebou gereed te kry vir eredienste het baie meer bykomende uitgawes as wat in gemeentes se begrotings vervat is,” het Malan gesê.

Hoewel dit vir lidmate gemaklik was om gedurende die grendeltyd en koue oggende aanlynkerkdienste te volg, is die behoefte steeds daar om werklike kontak met medegelowiges te hê. “Lidmate verlang na die samesyn van ’n erediens.”

Malan het intussen die nodige toestemming en permit bekom om uiteindelik weer huisbesoek te kan doen.

“Dit is nie ’n geheim dat hierdie gemeente se inkomste en uitgawes nie meer klop nie, want ons is afhanklik van dankoffers. Lidmate kon nie hul dankoffers kerk toe bring terwyl eredienste verbied is nie en die gemeente se inkomste is benadeel. Ek verstaan dat dit ekonomies swaar gaan en vir baie mense is die eerste plek waar hulle besnoei, by die kerk.”

Malan sê hoewel talle gemeentes landwyd sukkel om kop bo water te hou, moet mense steeds voeding vir die siel kry.

“Wat maak die kerk noodsaaklik wanneer vrees en bekommernis intree? Ons is ’n gemeente wat lief is vir God en vir ons naaste. Ons lei hulle na Jesus toe deur hulle by die kerk toe te rus en om God se naam na buite te dra. Ons moet die boodskap van hoop op ’n praktiese wyse die wêreld instuur,” het hy gesê.

“Die huidige ekonomiese krisis plaas ’n bykomende las op broodwinners. Ons het steeds hoop, want die Here sorg dat ons dag vir dag ons daaglikse brood kry. Mense kry bemoediging as hulle by ’n gemeente ingeskakel is.”

Die AP-gemeente in Bela-Bela doen steeds barmhartigheidswerk en dra by tot die gemeenskap deur skenkings van niebederfbare produkte na minderbevoorregtes te versprei.

“Lidmate wat die Bybel uitleef, weet alles wat ons besit, eintlik aan Hom behoort.”

Die AP-gemeente van Bela-Bela beplan om ’n virtuele dankofferfees te hou om op te maak vir die tekort aan fondse by die kerk. Die beplanning moet nog gefinaliseer word.

Related Articles

Back to top button