Local newsNews

Koue knyp inwoners

Die afgelope naweek se koue het selfs die taaiste boerseuns genoop om ’n langbroek te gaan soek.

Waterkrippe het gevries, oeste het skade gely en inwoners het bibberend binnenshuis weggekruip.

Die koue het egter skade vir sommige gebring. Volgens Louis de Beer, wat met koring, mielies en graansorghum buite Roedtan boer, het die temperature die afgelope naweek tot -3 en -6 °C gesak.

“Van die boere in die omgewing wat boontjies onder besproeiing gehad het of laatkoring en sonneblom geplant het, het skade gekry. Die temperature daal tydens ’n gewone winter tot so -3 °C, maar -6 °C is baie koud. Ons het in 2014 laas sulke koue gesien en ons hoop dit beteken dat daar vir ons ’n normale reënseisoen voorlê. Dit sal goed wees as ons die skade wat ons nou gely het, in die somer kan verhaal.”

Die koue het darem ook ’n positiewe nadraai. Volgens De Beer het van die onkruid wat die laaste paar jaar nie doodgeryp het nie, die naweek ook gevries. Die vorige paar seisoene was dit nie koud genoeg nie en dit het aanhou groei.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle/Mookgophong-munisipaliteit, woon in die Vaalwater-omgewing. Sy het gesê die temperatuur daar het tot -10 °C gedaal en in Alma was die waterkrippe gevries. Suurlemoenbome het ook skade gely.

Ans Jacobs, ’n cliviakweker in Modimolle, het gesê die naweek se koue weer het verwoesting in haar tuin gesaai. Sy het ook einde Mei swartryp gehad.

“Daar is nie ’n resep om swartryp te vermy nie; hy gaan waar hy wil. Een plant sal morsdood geryp wees, maar die een langs hom makeer niks nie.”

Jacobs, wie se huis naby die gholfbaan geleë is, sê drawwers ervaar die koue in hierdie laerliggende deel as hulle soggens vroeg draf. “Ons sal eers ontspan oor skade wat ryp kan veroorsaak as die winter verby is. Ons is egter al laat in Augustus ook deur ryp verras.”

Related Articles

Back to top button