Local newsNews

Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle vra dringende steun met SMS-winterprojek

Die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle vra die gemeenskap se hulp om seker te maak die 170 kinders in hul sorg beleef ’n gesonde winter.

Inwoners kan ’n R15-bydrae maak tot hul #Warmwinter-projek deur ’n SMS te stuur.

Die kinderhuis het ’n dringende behoefte aan komberse, warm klere en skoolklere, asook produkte wat die immuunstelsel versterk, het Gerda van der Merwe, hoof van die kinderhuis, gesê. Die geraamde koste is R2 000 per kind.

Die kinders het vandeesweek begin terugkeer na hul onderskeie skole. Hulle is in agt verskillende skole en elkeen het sy eie voorgeskrewe skooldrag.

“Ons kan die 170 kinders gesond en warm deur die winter en die Covid-19-pandemie neem indien die gemeenskap ons hierin ondersteun,” het Van der Merwe gesê. Hulle poog om soveel mense moontlik te oortuig om elkeen ’n klein maandelikse skenking te maak.

“Die inperking en gepaardgaande verlies aan inkomste by van die kinderhuis se gereelde skenkers en die breër gemeenskap beperk die vermoë van die kinderhuis om in die behoeftes van die kinders te voorsien,” het sy gesê.

Mense kan help met ’n SMS-skenking van R15 deur die woord “FONDS” na die nommer 39236 te stuur. Die kinderhuis ontvang ’n staatsubsidie vir die versorging van die kinders, maar dié subsidie dek slegs 50% van hul begroting.

Related Articles

Back to top button