Local newsNews

Bietjie liefde in die tyd van virus

Dit is veral in aftreeoorde en ouetehuise waar die impak van die koronavirus gevoel word omdat bejaardes noodgedwonge afgesonder moet word om hulle veilig te hou.

Ouer mense is meer kwesbaar vir hierdie siekte, maar die meegaande eensaamheid eis ook sy tol.

Die jaarlikse Tooi Turkoois-veldtog, wat gemeenskappe bewus maak van die behoeftes van ouer persone, fokus vanjaar des te meer op hul welstand.

Die inwoners van die Waterberg Residentia-ouetehuis in Modimolle het reeds voor die nasionale inperking hul deure dig toegetrek om hul inwoners te beskerm, het Andries Visagie, bestuurder van die tehuis, gesê.

“Ons is juis daarom so dankbaar vir inisiatiewe soos Tooi Turkoois wat ondersteun word deur die hulporganisasie Rata. Hulle lewer geskenkpakkies vir inwoners af wat elk iets lekkers en ’n klein flitsie bevat om só die lig in ons lewens te wees,” het Visagie gesê.

Die veldtog word van 15 Mei tot 15 Junie geloods.

Visagie het gesê hulle probeer hul inwoners soveel moontlik beskerm. Geen besoekers word toegelaat nie en inwoners mag slegs die tehuis in noodgevalle verlaat. “Ons grootste uitdaging is die eensaamheid wat inwoners ervaar. Hulle is bekommerd oor hul kinders en familie wat hulle nie kan sien nie. Ons maak baie gebruik van sosiale media soos Zoom, Skype en Whatsapp-groepe om hulle te help om in verbinding met hul mense te bly.

In lande waar die virus reeds sy piek bereik het, is gesien dat dié siekte uiters dodelik is wanneer inwoners van ouetehuise siek word.

“Ons is bevoorreg om in ’n aktiewe gemeenskap soos die Waterberg te bly. Ons ontvang baie skenkings wat nie net help om die gemoed in die tehuis te verbeter nie, maar ook inwoners se fisiekse welstand te verseker,” het hy gesê.

Die virus het ’n verreikende impak op die bestuur van ouetehuise.

“Ons personeel bly sewe dae aaneen op die perseel, waarna hulle sewe dae huis toe keer. Hierdie is ’n groot opoffering van die personeel wat hul families tydens hierdie tyd van nood agterlaat om te verseker dat ons inwoners goed versorg en veilig is. Die gees waarin dit gebeur, is vir my die beste. Dit inwoners is baie dankbaar hieroor,” het hy gesê. “Al die personeel en inwoners word twee keer daagliks geskandeer vir simptome sodat enige infeksie so gou moontlik opgespoor kan word. Ons verskaf ook deurlopende opleiding en maak seker dat ons nie ná twee maande van inperking ons maatreëls verslap nie. Persoonlike beskermende drag is aan die orde van die dag en ons ontsmet gereeld hande, voete, oppervlakke en openbare plekke.

“Die protokol is reeds in plek vir enige moontlike positiewe gevalle. Beplanning teen hierdie virus is uitdagend. Daar is nie ’n bloudruk waarvan ons kan werk nie. Ons ontvang leiding van staatsdepartemente, maar geriewe en omstandighede verskil, wat innovering verg om uitdagings te oorkom. Gebede dra ons. Daar is daagliks mense wat my nader en sê dat hulle vir ons bid. Die wete dat daar soveel mense is wat aan ons dink, gee berusting vir my gemoed.”

Related Articles

Back to top button