Local newsNews

So staan sake met kospakkies en staatstoelae tydens virus-pandemie

Die behoefte aan kos word daagliks groter terwyl die koronavirus-pandemie voortwoed.

Witness Tiva, woordvoerder van die departement van maatskaplike ontwikkeling, het die afgelope week by navraag aan Die Pos gesê die Agentskap vir Suid-Afrikaanse maatskaplike sekerheid (Sassa) het sedert die begin van die grendeltyd in Maart kospakkies aan bykans 100 000 mense in Limpopo voorsien.

Daar is 86 248 huishoudings regoor die provinsie wat hulp gekry het, het hy gesê.

Luidens ’n verklaring van die departement is 117 900 aansoeke vir kospakkies ingedien en werk die departement onverpoosd daaraan om aan al die versoeke te voldoen.

Volgens Moses Maringa, DA-woordvoerder, word die kospakkies per distrik versprei en op Woensdag 13 Mei het die verspreidingsyfer só gelyk: Capricorn (8 194), Mopani (12 721), Sekhukune (12 741), Waterberg (8 010) en Vhembe (8 720). Die verspreiding word hanteer vanaf Polokwane, Tzaneen, Jane Furse, Thohoyandou en Seshego.

“Die departement fokus op inwoners wat die weerloosste is en hulp die dringendste nodig het. Ongelukkig is nie almal op kospakkies geregtig nie,” het Tiva gesê.

Tiva het gesê amptenare van Sassa of plaaslike maatskaplike werkers sal hulpbehoewendes besoek en aanbevelings aan die departement deurgee.

“Die provinsiale taakspan het reeds die beleid ingestel dat geen munisipale amptenaar of raadslid kospakkies mag uitdeel nie omdat dit dikwels konflik van belange veroorsaak. Raadslede en amptenare kan wel kontakbesonderhede van mense wat maatskaplike hulp verlang aan die departement deurgee.

Die departement is nie gekant teen privaat weldoeners wat ander probeer help in tye van nood nie, maar verkies dat kospakkies aan goedgekeurde individue verskaf word en om veiligheidsredes nie lukraak aan massas mense uitgedeel word nie, het Tiva gesê.

  • Werklose mense van 18 jaar en ouer wat geen ander toelaag ontvang nie, kan aansoek doen vir die R350-regeringshulp as deel van Sassa se maatskaplike hulptoelaes. Hierdie toelae word deur die regering befonds.

Nkakareng Rakgoale, LUR vir maatskaplike ontwikkeling, het onlangs gesê sodra die land se ekonomie stelselmatig op Maandag 1 Junie oopgestel word en mense weer vir hulself kan sorg, sal dit die las op die regering verlig.

Related Articles

Back to top button