Local newsNews

Gasvryheidsbedryf mis hul kliënte

“’n Mens waardeer die stilte, maar nou begin ons die mense en die interaksie mis.”

Die gasvryheidsbedryf wag angstig op nuus van die regering oor wanneer gaste weer verwelkom kan word.

Terwyl talle werksplekke weer vanaf Maandag 1 Junie vir sake open, is die gasvryheidsbedryf se deure nog toe.

Riaan Maritz, bemarker van die ATKV Klein Kariba-vakansieoord, het gesê gaste se positiewe kommentaar oor die oord op Facebook is bemoedigend. Hy sê navrae oor wanneer hulle weer na die oord kan terugkeer, stroom in.

“Ons is slaggereed. Ons gras is gesny, die swembaddens is blou, die oord se geriewe is opgeknap en die natuur is tans ontsettend mooi. Ons wens ons kon dit met ons lojale gaste deel.”

Die oord se bestuurspan tref intussen die nodige voorsorgmaatreëls vir wanneer gaste terugkeer. Perdrytoerusting sal byvoorbeeld gesteriliseer word, groot groepe mense sal beperk word en verblyf in wooneenhede sal afgewissel word. Daar sal ook groter afstande tussen karavaanstaanplekke en by die restaurant gehandhaaf word. Hy het voorts gesê die oord wag nog om te hoor oor wanneer hul weer vir ’n dranklisensie kan aansoek doen.

“Ons is baie gelukkig dat ons nog nie personeel uit diens moes stel nie. Indien die bedryf nie gou oopgestel word nie, sal ons van die werkloosheidsfonds gebruik moet maak. Al ons kultuuraktiwiteite is reeds gekanselleer totdat ons weer ’n inkomste verdien.

“Intussen help personeellede om al die instandhoudingtake op die oord te verrig en wag ons op die regering om die toerisme-sektor te heropen.”

Matie Barnard, bestuurder van die Mabalingwe-natuurreservaat, het gesê hulle is dankbaar vir die aandeleblok-skema, want dit help om kop bo water te hou.

“Ons is baie geseënd en is in die bevoorregte posisie dat ons personeel tot op hede hul salarisse ontvang het. Die meeste van ons afdelings op die reservaat word gelukkig erken as noodsaaklike dienste,” het hy gesê.

Van die personeel wat by die karavaanpark en by die aandeleblok gewerk het, is tans tuis op verpligte verlof omdat daar geen gaste is nie. Die meeste eienaars bly sedert die grendeltyd op die reservaat.

“’n Mens waardeer die stilte, maar nou begin ons die mense en die interaksie mis, want die reservaat is gebou vir mense.”

“Ons behartig intussen die instandhouding en sorg dat ons geriewe gereed is vir wanneer ons weer gaste mag ontvang.

“Daar is baie druk op eienaars wat hul eiendomme verhuur en met die inperking nie gaste mag ontvang nie. Dit is tragies, want ons wil hê dat mense die reservaat besoek. Die inperking kan nie vir ewig aanhou nie.”

Deon Beukes, eienaar van Bosfonteinkaravaanpark, het gesê hy is dankbaar dat gaste nie hul besprekings gekanselleer het nie, maar net uitgestel het tot ná die inperking. Hy is tans bekommerd oor die oorhoofse koste wat ophoop, terwyl daar geen besoekers en geen inkomste is nie. Hy is ook bekommerd daaroor of mense ná die grendeltyd geld gaan oorhê vir vakansie.

“Ons het probeer aansoek doen vir regeringshulp, maar ons het tot dusver geen hulp van die regering ontvang nie.

“Kampeerterreine kan tog dieselfde Covid-19-voorsorgmaatreëls as ’n inkopiesentrum toepas,” het hy gesê.

“Indien die inperking aanhou, sal dit ons met geen ander keuse laat as om werkers te laat gaan nie. Ek self moes van my polisse en selfs my mediese fonds prysgee. Ek probeer om ’n inkomste te genereer deur die wild op die oord te slag vir vleis om te verkoop.”

Stef Kruger, direkteur van die South of Africa Group en bestuurslid van die Elephant Springs Hotel, het by navraag gesê hulle het sedert die inperkingstyd reeds R500 000 aan inkomste verloor.

“Alle besprekings is gekanselleer en ons het gaste se geld terugbetaal. Alle werkers het ten minste vergoeding van die werkloosheidsfonds gekry. Ons wag in spanning vir die einde van die inperkingstyd.”

Die hotel se inkomste is grootliks van konferensies afhanklik, wat uiteraard nie nou kan plaasvind nie.

“Dit is jammer dat die onderneming waaraan ons die afgelope vyf jaar so hard gewerk het, nou feitlik tot ’n stilstand gebring is,” het hy gesê.

Intussen maak hulle seker dat alle higiëniese voorsorgmaatreëls getref word. Kruger het gesê hy is bekommerd oor die werkloosheid wat in die gasvryheidsbedryf kan toeneem as sekere plekke hul deure permanent sluit weens die verlies aan inkomste. Afdankings behoort volgens hom die laaste uitweg te wees.

Related Articles

Back to top button