Local newsNews

Brandseisoen voor die deur

Ockert Scherman, voorsitter van die brandvereniging in Mookgophong, het aan Die Pos gesê die seisoen van veldbrande lê voor die deur.

“Die brandseisoen begin in Junie en as ’n mens sien hoe welig die veld vanjaar gegroei het, besef ons dat veldbrande ’n groot gevaar inhou,” het hy gesê.

Hy maak staat op grondeienaars om te help om brande te voorkom en bestuur.

Floris Booysen, voorsitter van Potgietersrus DLU, het gesê die brandgevaar is altyd groot ná die eerste ryp van die seisoen. Die span van Working on Fire (WoF), wat normaalweg by die Elders-veilingskrale buite Mookgophong gestationeer is, is tans nie daar nie weens die Covid-19-inperkingsmaatreëls. Hy het gesê boere is oor die algemeen bedag op veldbrande, maar die gras is op plekke baie lank en moet gesny word.

Scherman het boere wie se brandpaaie nog nie gemaak is nie, versoek om dringend daaraan aandag te gee. “Selfs al huur jy grond, is dit die huurder se plig om seker te maak dat brandpaaie onderhou word. Brandpaaie moet 4 m breed wees sodat ’n voertuig daarop kan ry sonder om tydens brandbestryding skade op te doen,” het hy gesê.

Hy het eienaars ook gevra om seker te maak dat hulle die nodige toerusting het om brande te bestry. Indien ’n brand ontstaan, moet die persoon eerstens ’n sektorleier, vir Scherman of Arrie Opperman, hoof van die brandweer by die munisipaliteit in Mookgophong, in kennis stel. Die betrokke bure moet ook in kennis gestel word sodat die vlamme so gou moontlik geblus kan word.

“Lede moet hul ledegeld betaal en seker maak dat hulle versekering voorsiening maak vir verlies weens brandskade. Dit is ook belangrik om versekering te hê vir openbare aanspreeklikheid indien die vlamme versprei en skade aan ander eiendomme aanrig,” is sy raad.

Grondeienaars moet ook toegang verleen sodat vuurvegters met water hervul kan word. Hy het mense aangeraai om nie goedsmoed oop vure te maak nie aangesien dit in wegholbrande kan ontaard.

Related Articles

Back to top button