Local newsNews

Bekende van Thabazimbi oorlede

Een van Thabazimbi se oudste inwoners, Jenny Kemna (93), is op Sondag 10 Mei oorlede terwyl sy aangesterk het ná ’n kort siekbed.

Kemna, wat alleen in haar huis gewoon het ná haar man, Anton, se dood in 2014, was nie siek nie, hoewel sy van ’n seerplek aan haar been gekla het.

Die Pos het verneem daar is ná die aankondiging van die inperkingstyd aanbeveel dat sy by die MediClinic in die dorp opgeneem word.

Die seerplek aan haar been het tydens haar verblyf daar herstel, maar sy het glo longontsteking opgedoen. Sy het sodanig herstel dat sy ontslaan is en tuis moes aansterk waar haar buurvrou, Louisa van Eltec, ’n ogie oor haar gehou het.

Kemna se enigste oorblywende familielid in Suid-Afrika, ’n broerskind van Anton, het haar egter gaan haal en haar by hul huis in Johannesburg versorg.

Sy is op Sondag 10 Mei daar oorlede.

’n Gedenkdiens is op Dinsdag 19 Mei vanuit die Katolieke Kerk in Johannesburg gehou. Die Kemna-egpaar was jare lank aktiewe lidmate van die Katolieke-gemeente in Rustenburg, wat hul naaste gemeente was.

Anton en Jenny het as jonggetroude paartjie besluit om uit Nederland na Suid-Afrika te emigreer en het op 10 Mei 1954 voet aan wal gesit.

Woonplek in Thabazimbi, die myndorp waar hulle hul sakeonderneming gevestig het, was maar skaars. Hulle het destyds blyplek in Chromite, die dorpie by Zwartkop-chroommyn, naby die huidige Amandelbult gekry en het daagliks per trein met ’n tas vol horlosies na Thabazimbi gereis om daar ’n bestaan te maak.

Aanvanklik het hulle van huis na huis gestap en stukkende horlosies vir kliënte herstel. Later kon hulle, danksy harde werk, ’n klein winkeltjie in Tweedelaan bedryf en later ’n huis in die dorp koop.

Die egpaar het hul horlosiemakersaak bedryf tot Anton se dood in 2014.

Related Articles

Back to top button