Local newsNews

Jordan’s-haarsalon se personeel wéér ontwrig

Dit is nie die eerste keer dat die personeel van dié salon verslae gelaat word nadat ’n ramp hulle tref nie.

Jordan’s-haarsalon in die Bosveld Mall se Pick n Pay-sentrum in Bela-Bela is nóg ’n sakeonderneming wat diep getref is deur die nasionale verbod op die opening van haarsalonne.

Dit is nie die eerste keer dat die personeel van dié salon verslae gelaat word nadat ’n ramp hulle tref nie. Dié salon was een van die sakeondernemings wat in 2018 by die Bela-Bela Waterfront afgebrand het en die eienaar moes inderhaas na ’n nuwe perseel begin soek.

Eugene Sterckx, eienaar van die salon, het die afgelope week aan Die Pos gesê weens ’n gebrek aan inkomste sedert die inperking kan hy eenvoudig nie meer die huurgeld by die Bosveld Mall bekostig nie. Hy kyk tans uit vir ’n geskikte perseel in die woongebied wat oor die nodige besigheidsregte beskik en waar hy weer ’n getroue en lojale kliëntebasis kan opbou.

Dit is steeds onduidelik wanneer haarsalonne ingevolge wetgewing weer hul deure mag open.

“Daar is bewerings dat salonne eers op vlak 1 van die inperking mag open. As dit só aangaan soos nou, lyk die toekoms maar duister,” het Sterckx gesê.

Hy wag intussen — saam met saloneienaars landwyd — in spanning vir die uitslag van die hofsaak in die Kaapstadse hooggeregshof waarin haarkappers die regering hof toe sleep oor die inperkings. Die saak sal na verwagting op Woensdag 27 Mei aangehoor word.

“Ons het ons werkers tot nou betaal, maar ons sal sien wat gebeur aan die einde van die maand. Hulle sal waarskynlik van die werkloosheidsfonds moet begin eis, want die geldsake begin nou erg druk.”

Sterckx het gesê hy is dankbaar dat kliënte hom gereeld bel en bemoedig. “Hulle ondersteuning in dié onsekere tye is wonderlik.”

“Dit gaan goed met my, want ’n verhouding met die Here help ’n mens aanhou en moed hê vir dit wat nog kan gebeur. Alles gebeur soos wat dit moet, want die Here beskerm en dra ons. My hart gaan uit na mense wat geen geld het nie en gesinne wat swaarkry.”

Related Articles

Back to top button