Local newsNews

Dominee roer hartsnare met ‘Bly by my Heer’

Dit het vir meeste inwoners wat binne hoorafstand is, vreemd en uniek geklink toe hulle die geskal van ’n trompet ná die kerkklok se gebeier gehoor het.

Inwoners in die omgewing van die NG-gemeente Warmbad-Wes in Bela-Bela het al gewoond geraak aan die kerkklok wat, sedert die inperkingstyd, saans om 18:00 gelui word.

Dit het vir meeste inwoners wat binne hoorafstand is, vreemd en uniek geklink toe hulle die geskal van ’n trompet ná die kerkklok se gebeier gehoor het.

Ds. Theuns Kriek, leraar en die man agter die trompet, het dié week aan Die Pos gesê sy liefde vir trompet speel kom ’n lang pad.

“Ek het op skool in die kadetorkes trompet gespeel en ná skool vir my ma gesê ek wil graag weer trompet speel. Sy het in die negentigerjare ’n advertensie vir ’n trompet in Die Volksblad-koerant gesien en dit vir my gekoop. Maar hoe gemaak om te begin oefen met ’n instrument wat jy nie sagkens kan bespeel nie?”

Kriek het vertel dat hy vir jare nadat hy die trompet as geskenk gekry het, uit bedagsaamheid teenoor sy huismense en bure, die instrument laat stof opgaar het. Hy erken ruiterlik dat die aanvanklike klanke wat daaruit gekom het, nie noodwendig sag op die oor was nie.

“Ek het elke jaar my nuwejaarsvoorneme herhaal om weer die trompet te bemeester. Toe kom daar uitkoms uit ’n onverwagte oord — ’n viruspandemie. Ek het die inperking benut om ’n paar keer per dag vir kort rukkies in my studeerkamer agter toe deure te begin oefen.”

Volgens Kriek het sy lippe soms blou geword en sy gesig begin kramp soos wat hy geoefen het. En uiteindelik, op Saterdag 11 April, het hy sy debuut gemaak toe hy kort ná 21:00 die lied, “Bly by my Heer”, buite die pastorie langs die kerk op sy trompet gespeel het.

Kriek het gesê die keuse van die lied spruit uit sy dienspligjare in Tempe, Bloemfontein.

“Bly by my Heer het saans om 22:00 oor die Valskermbataljon se luidsprekers gespeel en dit was duidelik hoorbaar tot in my woonstel tussen Tempe en die Kovsie-kampus. Dit het altyd so ’n vreedsaamheid oor my laat neerdaal,” het Kriek gesê.

 

 

Dié lied wat nou uit sy trompet weerklink, het intussen ’n daaglikse roetine geword. Sy mede-leraar, ds. Willie Potgieter, lui elke aand om 18:00 die kerkklok, waarna Kriek se trompetspel volg.

“Dit is regtig ’n mooi spanpoging. Ek erken ek kan nog baie verbeter en vra mense moet maar vergewe as daar soms ’n skewe klank ontsnap,” het hy geskerts.

“Ek vertrou dat mense wat in hierdie grendeltyd die lied hoor, ook hierdie vrede sal beleef.”

Related Articles

Back to top button