Local newsNews

Virus eis oud-Nylie

Volgens sy pa was hy gesond en fiks. Hy het gereeld aan driekamp en fietsritte deelgeneem.

Die verwoestende Covid-19-virus het die lewe van ’n boorling van Modimolle geëis nadat hy in die grendeltyd in Lima, Peru, vasgekeer was.

Die 45-jarige Chris Nieuwoudt was op ’n navorsingstoer en sou vanjaar verskillende lande besoek het, het sy pa, Mias, aan Die Pos gesê. Mias was vroeër die hoofbestuurder van die NTK op die dorp en in die tagtigerjare burgemeester van die destydse Nylstroom.

“Chris het ’n woonstel in Lima gehuur. Hy was daar saam met ’n groep buitelanders uit Amerika en Europa, maar toe die lande hul grense begin sluit, kon hy nie terugkeer huis toe nie. Die res van die groep kon wel na hul onderskeie lande terugkeer. “Hy het siek geword en homself in sy woonstel afgesonder en met die gebou-eienaar gekommunikeer. ’n Assistent wat die gebou skoonmaak, het hom hospitaal toe geneem en baie mooi versorg,” het sy pa gesê. Nieuwoudt is op Saterdag 2 Mei in ’n hospitaal in Lima opgeneem en is op Maandag 4 Mei oorlede.

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

“Chris het baie jare in die buiteland gewerk en was verskeie tale, waaronder Spaans, magtig. Hy kon gelukkig goed met die mense kommunikeer.”

Volgens sy pa was hy gesond en fiks. Hy het gereeld aan driekamp en fietsritte deelgeneem.

Die lewenslustige Nieuwoudt was van jongs af ’n uitblinker.

Die Pos het in 1992 berig dat dié oud-leerder van Hoërskool Nylstroom beloon is met die Hennie Joubert-merieteprys vir die beste uitslae in Unisa se finale musiekeksamen in teorie.

Hy was ook lid van die Noord-Transvaalse Jeugkoor en die Verre Noord-jeugorkes en het ook op die verhoog uitgeblink. Hy was ’n toppresteerder in akademie en het verskeie kere die goue medalje vir hoogspring by die destydse Verre Noord-kampioenskap ingepalm.

Hy is ná skool as uitruilstudent na Duitsland waar hy kursusse in musiek en Duits as taal voltooi het. Daarna het hy sy B.Com Honns en CA (SA) verwerf. Nieuwoudt het vir ’n Duitse ingenieursfirma in Chile gewerk voordat hy in 2007 by die Wêreldbankgroep aangesluit het en in Kenia gestasioneer was, het sy pa vertel.

Nieuwoudt was ongetroud en laat sy ouers, Mias en Joyce, asook sy broer, Kobus Nieuwoudt, wat in Namibië woon, agter. Hy sal later in die NG-gemeente Waterberg se gedenktuin ter ruste gelê word.


Baie dankie aan André Kock en Seuns sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

Related Articles

Back to top button