Local newsNews

Kansa trek sy deure toe; dienste gaan voort

Kansa Waterberg se streekskantoor in Modimolle trek ná 18 jaar sy deure toe.

Die finansiële knyptang waarin talle ondernemings hulself bevind, wurg ook nie-regeringsorganisasies.

Kansa se volhoubaarheid was geskoei op donasies en inkomste uit die gemeenskappe van die Waterberggebied.

“Dit is net nie meer moontlik vir die nasionale Kansa-vereniging om hierdie kantoor geldelik te dra nie en dit is omgeskakel na ’n virtuele kantoor,” het Wilna van den Heever van die vereniging gesê.

Hoewel Ansie van Heerden, wat die bemarking behartig, aanbly in ’n halfdagpos om projekte soos die Cuppa for Cansa, Relay for Life en Toktokkie te hanteer, is Mariaan Viljoen, wat die administratiewe take hanteer het, nie meer by die organisasie betrokke nie.

Van den Heever, wat omgesien het na die mediese dienste, se kontrak is ook beëindig. Sy sal voortaan ’n privaatkliniek behartig en deels Kansa se dienste verskaf. Sy sal alle siftingstoetse soos die PSA-bloedtoets vir prostaatgesondheid, papsmere, borsondersoeke en velontledings met die Fotofinder-masjien per afspraak doen namens Kansa.

Mediese toerusting soos rolstoele sal by haar kliniek in Booysenstraat 14 in Modimolle te huur wees.

Al die Kansa-vrywilligers sal nog betrokke wees by Van Heerden se projekte en Van den Heever se dienslewering.

“Sonder die bereidwillige hande van hierdie vrywilligers sal die werk nie voortgesit kan word nie,” het Van den Heever gesê.

Die personeel is dankbaar vir jare se ondersteuning uit die gemeenskap. “Ons moet nou verander om aan te pas by nuwe omstandighede. Kansa bly steeds afhanklik van donasies en ondersteuning met al die projekte,” het Van den Heever gesê.

Bel vir Ansie van Heerden by tel. 076 409 4444 of Wilna van den Heever by tel. 082 493 1884 en (014) 717 5454.

Related Articles

Back to top button