Local newsNews

Wees ‘kerk’ by die huis

“Dit maak dat mense weer ernstig introspeksie doen oor hul geloof en verhouding met die Here. Ons moedig mense aan om weer kerk by die huis te wees.”

Die wêreld het in ’n oogwink verander na ’n plek waar ons ver van mekaar af staan, deur maskers mompel en eerder tuisbly as om in groepe, soos die kerk, bymekaar te kom.

Dit is nie net sakelui en skole wat moes planne beraam om hul funksies te kan aanhou verrig nie. Kerkgemeentes is ook diep deur hierdie skielike veranderinge geraak.

Past. Johan Brits van die Fokus Deo-gemeente in Modimolle het beaam dat alles verander het vir kerke en die samelewing.

“Dit maak dat mense weer ernstig introspeksie doen oor hul geloof en verhouding met die Here. Ons moedig mense aan om weer kerk by die huis te wees.”

Brits het gesê hy moes twee troues behartig wat albei na later datums uitgestel moes word.

Die gemeente span sosiale media in om steeds hul boodskap aan gemeentelede oor te dra.

“Ons behou sover moontlik kontak met mense op sosiale media. Ons kom agter dat mense sukkel met depressie. Die hartseer is dat ek nie daardie mense kan besoek nie en daarom het ons relevante onderwerpe wat ons met die gemeente deel. Ons help ouers om weer priester in hulle eie huis te wees. Ons noem dit Fokusgroepe. Dit is waar jy saam met jou gesin fokus op ’n tema. Temas wat ons al behandel het was byvoorbeeld: Wat is die verskil tussen besorg wees en bekommerd wees? en hoe hanteer ons mekaar in die huis? Dit is op ons YouTube-kanaal beskikbaar,” het hy gesê.

Gemeentes het ook uitgawes om te dek en Sondagkollektes is vir eers van die baan. “Ja, ons inkomste word geraak omdat mense nie meer na die kerkgebou toe kom nie. Ons is so dankbaar vir mense wat steeds getrou hul bydraes maak. Die gemeente saai nog steeds, help met kos, met die versorging van bejaardes en doen sendingwerk.

Sy raad aan diegene vir wie die inperking nou baie erg raak, is: Erken as jy ’n bietjie af voel. Jy is ’n mens en jy gaan môre weer beter voel. Gaan sit so ’n bietjie in die son. Gebruik die oggend se oefentyd om om die blok te gaan stap. Sorg dat jy saans goed slaap. Onthou dat jy beheer oor jou gedagtes het. Neem die besluit om reg te dink en bid meer en lees meer Bybel — ons het nou meer tyd daarvoor.”

Brits het gesê hulle plaas elke dag boodskappe op hul Facebookblad om mense te bemoedig.

Related Articles

Back to top button