Local newsNews

Nuwe Lewe-gemeente verkondig ‘nuwe lewe’ tydens inperking

Al heers daar groot onsekerheid in die land, plaas talle kerkgangers en leraars van Bela-Bela steeds hul hoop op hul Verlosser, terwyl kerke se deure gesluit moet bly weens die koronavirus-pandemie.

Alle kerkbyeenkomste is landwyd verbied sedert die inperking begin het.

Past. Michael Dippenaar van die Nuwe Lewe-aanbiddingsentrum in die dorp het aan Die Pos gesê die gemeente kry geldelik swaar, maar mense se behoefte om ander te help, troef dit.

“Ons aanlynpreke was tot dusver baie suksesvol en gemeentelede is steeds bereid om hul tiendes vir die kerk te gee. Die uitdaging is om mense persoonlik te bedien, maar ek doen dit nou deur daagliks, soggens en saans, aan gemeentelede en inwoners ’n boodskap van hoop te stuur.”

Die kerk se bedieningspan, wat help met die verspreiding van kospakkies en noodsaaklike produkte aan gemeentelede in nood, se werksaamhede word beperk deur die inperkingsbevel se verbod op beweging.

Dippenaar het gesê alle skenkings word by die kerk gehou en behoeftiges kan die nodige reëlings tref om dit daar af te haal.

Hy sê Christene moet in hierdie tyd ’n kopskuif maak om moedeloosheid teë te werk.

“Daar is uitkoms. Mense moenie fokus op samesweringsteorieë en wederkomsvoorspellings nie, maar nou daarop konsentreer op hoe hulle leef en wat die Here in hierdie tyd van hulle verwag,” het hy gesê.

“Dit is maklik om moedeloos te raak en te sondig, veral in hierdie tyd, maar ons moet ons oë op die Here hou. Ek raai mense aan om ander te bemoedig en vir hulle te bid, want ons het die tegnologie om mense steeds te bereik.”

Dippenaar het gesê hy het reeds wonderlike getuienisse beleef van hoe die Here mense in dié tyd op bonatuurlike wyse uit hul moedeloosheid gered het.

“Kerke bied eintlik ’n noodsaaklike diens aan, want dit is ’n kombinasie van fisieke en geestelike hulp. Dit maak nie sin om mense van Jesus te vertel, terwyl hulle honger is nie. Voed die liggaam én die gees.”

Hy het gesê hy deel hoofde en organisasies wat kleuterskole bedryf, se kommer. Dié gemeente se Nuwe Lewe Kinderland se deure is steeds dig toe, soos die wet vereis — met geen aanuiding oor wanneer hulle weer kinders sal kan ontvang nie.

“Ek is net verlig dat ek tot dusver geen begrafnisse hanteer het nie. Intussen sny ek self die gras by die kerk en hou die tuine en die geboue in stand.

Die munisipale park oorkant die kerkgebou se gras raak nou effe lank, maar ons masjiene is nie geskik om daardie gras te sny nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button