Local newsNews

Covid-19-pandemie ’n uitdaging vir kerke

Dit is nie net sakeondernemings wat tydens die inperking probeer kop bo water hou nie; kerke trek ook swaar weens die regulasies en wetgewing rondom die inperkings.

Die Pos het met twee predikante van Mookgophong gesels oor die ongekende uitdagings.

Volgens ds. Louis Pretorius van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die dorp maak offergawes tydens die Sondag-eredienste, asook die deurkollektes, ’n groot deel van die gemeente se jaarlikse begroting uit. Hierdie offergawes word onder meer gebruik om projekte soos barmhartigheidsdiens, uitreik- en jeugaksies te ondersteun.

“Ons het in hierdie uitdagende tye vir lidmate gevra om die eredienskollektes van Sondae deel te maak van hul maandelikse dankoffer,” het hy gesê.

 

Ds. Jan Claassen van die Hervormde Kerk in Mookgophong

 

Ds. Jan Claassen van die Nederduits Hervormde Kerk het gesê wanneer mense saam as gelowiges byeenkom, maak hulle hul hande oop en gee bydraes.

“Dit is nou baie moeilik omdat daar nie eredienste is nie.”

Daar is baie bejaarde lidmate wat nie vertroud is met elektroniese betalings nie en diakens mag nie nou huisbesoek doen nie. Dié gemeente moes ook vanjaar hulle jaarlikse Naboom Fiësta inboet en op die nippertjie alles kanselleer. Die fees sou op Saterdag 11 April plaasgevind het en is altyd ’n groot geldelike hupstoot vir die dorp én die gemeente.

Albei predikante het gesê gemeentes sal voortaan “nuut” moet begin dink om die Boodskap by lidmate uit te bring.

“Ons neem Sondae se boodskappe op stempos en versprei dit via Whatsapp-groepe,” het Pretorius gesê.

Die wonderlike nuus is dat meer lidmate klaarblyklik hierdie boodskappe ontvang as wat gewoonlik op ’n Sondagoggend die eredienste bywoon. Baie lidmate stuur die boodskappe aan hul kinders wat in ander lande woon.

“Ons kry soveel boodskappe van waardering uit ander lande waar oudlidmate nou woon en na die preke en oordenkings luister. Ek dink predikante sal in die toekoms hierdie manier moontlik insluit by hul verkondiging van die Woord,” het Claassen gesê.

Hy het gesê sy pastorale werk word egter beïnvloed, want hy kan nie persoonlike besoeke aan gemeentelede bring nie.

Pretorius het gesê dit is vir hom ’n aanpassing om ’n verkorte troosboodskap by begrafnisse te bring en dit is hartseer dat familielede mekaar nie kan ondersteun soos wat hulle graag wou nie.

Egpare en gesinne wat in die gewoonte verval het om bymekaar verby te leef, word nou gedwing om meer tyd met mekaar deur te bring en te groei in hul verhouding.

“Ek is oortuig daarvan dat baie mense nader aan God beweeg het en hernude aandag aan hul verhouding met Hom gegee het. Ek kan nie wag vir die eerste Sondag waar ons as gemeente weer saam in die kerkgebou bymekaarkom nie. Daar is ’n groot honger daarvoor en ek glo dat erediensbywoning weer nuwe lewe gaan kry,” het Pretorius gesê.

“Die pandemie het vir ons groot waardering gegee vir die voorreg om as kerk en gemeente bymekaar te kom. Ons het dit as vanselfsprekend aanvaar en nou mis ons dit verskriklik. Ons bly baie positief en gryp geleenthede met albei hande aan. Ons moet elke dag opstaan en met hoop en vertroue die dag begin en ons vertroue in die Here stel,” was Claassen se boodskap aan lesers van Die Pos.

Related Articles

Back to top button