Local newsNews

Kyk uit vir geleenthede, sê Wiets

Die Covid-19-krisis deel nie net harde houe op gesondheidsvlak uit nie, maar is ook besig om die plattelandse ekonomie pap te slaan.

Wiets Botes, sakeman van Modimolle en voorsitter van die Waterberg-sakekamer, sê die impak is groot.

“Ek het 15 mense wat vir my werk. Ek kon hulle hierdie maand ten volle betaal danksy die werkloosheidsversekering. Ons het vanoggend vergader, want as dinge nie verbeter nie, sal ons ander planne moet maak. Hulle is my eerste prioriteit en ek probeer om my werknemers te behou in hierdie tyd,” het hy gesê.

Botes, wat sakepersele verhuur, sê bitter min huurders het hierdie maand hul huur betaal. “Van die nasionale groepe het briewe gestuur om te sê dat hulle nie sake kan doen nie en dus nie huur kan betaal nie. Van die kleiner ondernemings besef egter die druk waaronder ’n mens is en het soveel van hul huur betaal as wat hulle kon,” het hy gesê.

“Ek dink ons gaan innoverend moet wees. Ek kyk maar waarmee ons nog ’n inkomste kan inbring: ons doen vervoerwerk wat ons nooit vantevore gedoen het nie en verkoop kraalmis.

“Ons almal het vrese oor wat voorlê en of ons ons verpligtinge sal kan nakom. My raad is om innoverend te wees, koste te sny en geleenthede aan te gryp.

“Ons probeer sakekamerlede op hoogte hou van inligting wat geverifieer is, al is ons kantoor toe en werk ons van ons huise af. Fopnuus breek sakelui se moed. Een van ons lede, Gerhardt Breytenbach, ’n prokureur, gaan vir ons al die wetgewing deur,” het Botes gesê.

“Dit is belangrik om positief te bly. Wees die heeltyd op die uitkyk vir nuwe geleenthede. Dit was lekker om vandeesweek weer ’n vliegtuig in die lug te sien. Dat ’n mens nou bly raak oor so ’n klein dingetjie! Maar dit is vir my ’n teken dat dinge besig is om terug te keer na normaal. Ons sal nie gaan lê nie. Ons gaan aanpas en beslis anderkant uitkom.”

Botes is ook voorsitter van Hoërskool Nylstroom se beheerliggaam. “Ons het reeds ’n plan oor hoe ons die skool gaan heropen. Ons is reg en wag net vir die groen lig van die departement van onderwys. Die skool het baie min skoolfonds ontvang, maar ons kry dit reg om net-net ons beheerliggaamsposte te betaal. Ons versprei die geld sodat almal iets kry. Ons betaal ook ons plaaslike krediteure, want ons verstaan dat kleiner ondernemings sukkel.

“Die skool is positief en skoolhoof Anton du Plessis is ’n yster en het dinge onder beheer. Met die ondersteuning van die beheerliggaam sal ons die nuwe planne uitgerol kry.”
Een ding waarvan ons seker kan wees, is dat daar ’n nuwe “normaal” sal wees, glo Botes. “Ons sal moet aanpas en nie bang wees om foute te maak nie. As jy ’n fout maak, herbedink jou plan en gaan aan.”

Botes, wat voorheen ’n raadslid was, glo dat die munisipaliteite inwoners kan bystaan deur aan almal ’n aantal gratis eenhede elektrisiteit of water te gee uit die hulpfonds wat hulle van die regering ontvang. “Dit help nie mense het kos, maar nie water en elektrisiteit nie. Ondernemings kan bygestaan word deur die rente op hul munisipale rekeninge te vries.”

Related Articles

Back to top button