Local newsNews

Eiendomsagente probeer vasbyt

Vir eiendomsagentskappe het die nuwe vlak-4 inperking geen verligting gebring nie, aangesien agente eers op vlak-2 toegelaat word om weer te begin werk.

Die Pos het by een van die agentskappe gaan hoor hoe die inperking hulle raak.

Nico en Marie Krüger is die eienaars van PropRite in Mookgophong. Hulle kon sedert die begin van die inperking nie werk nie en het ook nie ’n inkomste verdien nie.

“Behalwe vir die feit dat ons nie eiendomme mag bemark nie, is daar ’n krisis in ons huurmark. Daar is ongeveer 50% van ons huurders wat nou geen inkomste het nie en dus ook nie huur kan betaal nie,” het Nico gesê.

Geen inspeksies mag by eiendomme gedoen word nie en mense wat elders wil gaan woon, mag nie trek nie.

Volgens die Krugers is daar van hul kliënte wat huise gekoop het en nou okkupasiehuur moet betaal al woon hulle nog nie daar nie.

“Ek kan ook nie huurders wat net voor die inperking verhuis het, se deposito’s terugbetaal nie, want ek kon nog nie inspeksies van die eiendomme doen nie,” het hy gesê.

Agente mag ook nie eiendomme skou of selfs “Te koop”-bordjies by eiendomme aanbring nie.

“Ons het geesdriftige kopers gehad wat nou kop uittrek, want die transaksies kan nie voortgaan nie aangesien die aktekantore eers op 1 Mei heropen het. Dit is ’n bose kringloop wat ’n reeds sukkelende mark nou nog verder gaan laat sukkel,” het Marie gesê.

Hulle het twee ander agente in hul diens waarvan een ’n broodwinner is.

“Ons is baie bekommerd dat die eiendomsmark nog verder gaan versleg en dat ons kopers nog meer gaan sukkel om huislenings te kry en waarskynlik groter deposito’s sal moet betaal. Ons grootste bekommernis is die huurders wat agterstallig raak met huurgeld, wat nie maklik weer herstel kan word nie,” het Nico gesê.

Related Articles

Back to top button