Local newsNews

Die gedrukte media is op sy knieë

“Ek glo steeds dat gemeenskapskoerante die hart van ’n gemeenskap is en dit is juis nou die tyd om dit te bewys.”

Koerante en tydskrifte is van die bedrywe wat die hardste deur die Covid 19-inperkingsbevel getref is.

Die Caxton-groep, waarvan Die Pos deel is, het die afgelope week aangekondig hy sluit sy tydskrif-afdeling. Dit sluit die tydskrifte Bona, Essentials, Farmer’s Weekly, Food & Home, Living & Loving, People, rooirose, Country Life, Garden & Home, Vrouekeur, Woman & Home en Your Family in. Onderhandelings word reeds met werkers gevoer.

Dit volg kort nadat Associated Media Publishing aangekondig het hy sluit ook die deure van Cosmopolitan, House & Leasure, Good Housekeeping en Women on Wheels.

In ’n artikel in Vrye Weekblad, onder die opskrif: “Die gedrukte media gaan dalk nie Covid-19 oorleef nie,” skryf Herman Wasserman: “Oor die hele Afrika heen kan tot die helfte van nuuswerkers moontlik hul werk binne die volgende ses maande verloor.”

Volgens Keina Swart, redakteur van Die Pos, is die koerant op sy knieë. Die Pos, wat al bykans 40 jaar bestaan, is in dié tyd meer as een keer as die beste koerant in die land aangewys.

“Ons het aansoek gedoen vir regeringshulp en wel uitbetalings ontvang, maar niemand het hul volle salarisse ontvang nie. “Ons het 26 personeellede, wat almal gesinne het. Dit sluit nie die vryskutwerkers en pakkers in nie.”

“Die media is aangewys as noodwerkers en ons het aangehou om die nuus aanlyn aan ons lesers te bring terwyl ons geen inkomste gehad het nie, want ons adverteerders en die meeste van ons meer as 100 verspreidingspunte in die Waterberg se deure was, of is steeds, toe. Ons adverteerders kry ook almal geldelik ontsettend swaar en sny daarom op hul advertensiebegrotings.

“Dit neem tyd en kos geld om ’n fotograaf en verslaggewer na ’n toneel uit te stuur, oproepe te maak of e-posse te stuur om die regte inligting te kry, deeglik te proeflees vir spelfoute en dan die nuus en foto’s aanlyn op te laai. Whatsapp-groepe en Facebook het ons verslagspan se moed in hierdie tyd gebreek wanneer dit lyk asof mense eerder binne minute één onbevestigde, sensasionele sin wil lees en versprei, as om ’n bietjie langer te wag vir ’n volledige berig met die korrekte inligting. Die kwetsende kommentare onderaan feitlik elke nuusberig, was ook baie erg vir die aanlynspan.”

Swart het gesê sy is ongelooflik dankbaar teenoor die sakeondernemings wat aangehou het om hulle in dié tyd te ondersteun en diegene wat hul laaste rekenings volledig betaal het.

“Toe ’n paar van ons hierdie week terug kantoor toe is, het ons nie geweet of daar vandeesweek genoeg advertensies gaan wees om die koerant se druk- en afleweringskoste te regverdig nie, maar ons was aangenaam verras.”

“Ek glo steeds dat gemeenskapskoerante die hart van ’n gemeenskap is en dit is juis nou die tyd om dit te bewys. Ons kon in dié tyd, danksy ons Kinderfonds-rekening wat deur ons lesers in stand gehou word, steeds duisende rande aan behoeftige instansies in ons direkte lesersgebied uitbetaal. Verder het ons ons tariewe só gesny dat selfs piepklein eenmansake dit kan bekostig om in Die Pos te adverteer. Ons maak planne. Ons bid. En ons sal aanhou om eerbare joernalistiek te beoefen. Ons vat dit een dag op ’n slag en weet nie hoe die dag van môre lyk nie. Ons glo dat dit wat ons vandag uit die Here se hand ontvang, genoeg vir vandag is. Ons hou vas aan Hom.”

Related Articles

Back to top button