Local newsNews

‘As ons hierdie oorleef, is ons beslis sterker …’

“Ons maak op hierdie stadium daagliks planne om op die korttermyn kop bo water te hou. Dit is vir ons baie moeilik om langtermynplanne te maak”

Maak nie saak in watter bedryf ’n onderneming is nie, dit word geraak deur die ekonomiese impak wat saam met die Covid19-virus by die agterdeur ingesluip het.

Michiel Laubscher, finansiële direkteur van Nylstene in Modimolle, het beaam dat die inperking wat ingestel is om die verspreiding van die virus te beperk, ’n uiters negatiewe impak op hul onderneming het.

“Ons maak op hierdie stadium daagliks planne om op die korttermyn kop bo water te hou. Dit is vir ons baie moeilik om langtermynplanne te maak, aangesien die toekoms baie onseker is. Ons weet nie wanneer daar verskuif sal word na die volgende vlakke van inperking nie en die konstruksiesektor (wat ons hoofmark is) weer toegelaat sal word om te begin werk nie.

Ons mag onder die huidige vlak 4-regulasies terugkeer na 50% produksie, maar die konstruksiesektor maak eers weer onder vlak 2 oop; dus is dit vir ons ’n moeilike besluit of dit die moeite werd is om verder te investeer in ons voorraadvlakke,” het hy gesê.

“Ons het 325 werknemers in diens wie se maandelikse inkomste direk geraak word deur die pandemie. Ons April-eis vir die verligting wat die regering aanbied in terme van die Ters Covid19-voordele, was suksesvol. Ons het ons eis middel April ingedien en die uitbetaling voor maandeinde ontvang.

“Onder die huidige vlak 4-inperkings het ons nou al ongeveer 90 personeellede terug by die werk. Dit is onseker wanneer die vervaardigingsektor toegelaat sal word om weer meer as 50% van hul personeellede in diens te neem en ons sal weer afhanklik wees van die Ters Covid19-voordele om vir die personeel te sorg wat steeds nie dié maand kon werk nie,” het hy gesê.

“Ons sal vanjaar slegs voortgaan om die opknapping van ons administratiewe en verkoopskantore in die dorp af te handel, maar alle verdere kapitaal- en uitbreidingsprojekte sal op die langebaan geskuif word totdat meer duidelikheid bestaan oor die pandemie en die toekoms van ons land se ekonomie.”

Laubscher is egter, ten spyte van spanningsvolle tye, steeds hoopvol. “Ons bly positief. Ons geloof dra ons. Ons glo as ons dit regkry om die skip deur hierdie storm te stuur, ons as individue, maar ook as onderneming, sterker aan die anderkant sal uitkom.”

Related Articles

Back to top button