Local newsNews

Inperking kry nie hierdie twee onder

“Ons troudag was perfek. Ons het die lekkerste bruilof gehou.”

Bela-Bela-inwoners kon nie op Sondag 3 Mei hul oë glo toe hulle in die verbyry ’n bruid in ’n dorpstuin gewaar nie.

Vir Charline (nèè Jacobsz) en Juan-Pierre Oosthuizen was dié dag egter bittersoet.

Die egpaar is een van talle wêreldwyd wie se beplande troudag weens die uitbreek van die Covid-19-virus in die slag gebly het. Maar dié twee het gou besluit om hul teleurstelling in iets moois te omskep.

 

Saam met hulle op die foto is Charline se ouers, Francois en Marilyn Jacobsz.

 

Charline is die dogter van Francois en Marilyn Jacobsz van Bela-Bela. Juan-Pierre kom oorspronklik van Thabazimbi. Sy ouers is Henri Oosthuizen en Hester Pretorius en sy stiefouers is Pierre Pretorius en Yougandrie Paramaswami.

Charline het die afgelope week aan Die Pos gesê sy en Juan-Pierre sou op Saterdag 25 April hul troue (op haar verjaardag) buite die dorp gehou het omdat hulle geglo het dat die inperking teen Vrydag 17 April sou eindig. Dié reëlings moes toe inderhaas verander word toe dit blyk dat die inperking langer sou duur.

Die paartjie is amptelik op Donderdag 5 Maart in die Bela-Bela-landdroshof getroud, maar hul bruilofsfees met sy Hebreeuse tema en Charline se pa wat die seremonie sou behartig, moes uitgestel word weens die verlengde inperkingsbevel.

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

“Ons was nie aanvanklik bekommerd oor die datum nie. Ons het my rok gekry op die dag voordat die inperking ingetree het — net vir ingeval iets voorval,” het sy vertel.

“Toe ons sien dat die inperkingstydperk verleng word, het ons besef dat die dag waarna ons hele familie uitgesien het, nie gaan gebeur soos ons dit beplan het nie. Ek en my man het egter vooraf besluit dat ons steeds gaan trou — maak nie saak wát gebeur nie.”

Nadat die gesin beraadslaag het, het hulle besluit om die seremonie sommer by die Jacobsz-huishouding op die hoek van Huilbos- en Rooiboslaan in Bela-Bela te hou.

Daar was blomme, troukoek, ’n mooi gedekte tafel en ’n stralende bruidspaar. Die sewe ooggetuies het almal sedert die eerste dag van die inperking hulself saam afgesonder.

Wat ookal die gesin kon kry wat by die huis besikbaar was, het deel geword van die seremonie.

“Ons het op daardie stadium net twee geel daisies in ’n blompot buite die huis gehad, maar ons was só gelukkig dat daar darem meer as net een blom in die tuin was. Die bruidegom en twee strooijonkers het ’n boog gebou met dit wat in en om die huis beskikbaar was.

Die huis se voorstoep is in die onthaalarea omskep. Charline het die beskikbare haarkleurmiddels in die huis gebruik en haar suster het haar hare versorg en ’n pragtige kroon gevleg. Volgens Charline het hulle baie selfdoen-video’s op YouTube gekyk.

’n Vriendin het die egpaar verras met 100 vars rose, het Charline gesê.

“Ons troudag was perfek. Ons het alles die vorige aand reggekry en toe gaan slaap. Daar was geen haas of stres dat die seremonie op ’n sekere tyd moes begin nie. Ons het die lekkerste bruilof gehou.”

Charline se pa het, soos beplan, die seremonie waargeneem, waarna die gaste foto’s in die tuin geneem en lekker saam gelag het vir die voertuie wat stadig verbygery het. Dit terwyl elkeen ’n stuk troukoek vir ontbyt geëet het, het Charline gesê.

Vir hoofgereg was daar potbrood en potjiekos.

“Daar is nie woorde om te beskryf hoe geseënd ons is nie. Ons moet nooit ons hoop en vertroue in die Vader verloor nie. Die wêreld mag voel asof dit stilstaan, maar ons moenie moed verloor nie. Daar is geen beter tyd om die beste van ’n saak te maak as nou nie.”


Baie dankie aan Steers Bela-Bela sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button