Local newsNews

Gewilde Innibos Kunstefees uitgestel

Die plasing van dié berig op Die Pos se Facebookblad is moontlik gemaak deur Die Hoërskool Menlopark.

Die Standard Bank Innibos Kunstefees wat in Junie in Mbombela (Nelspruit) gehou sou word, is uitgestel weens die voortslepende koronavirus-pandemie.

Die beoogde nuwe datum vir die kunstefees is vroeg in Desember vanjaar.

Andy Lubbe, feesdirekteur, het in ’n verklaring gesê die onsekerheid of openbare byeenkomste in Junie reeds toegelaat sal word, het dié besluit genoop.

“Ons wil eerder nou pro-aktief optree en planne beraam sodat Innibos, al is dit in ’n verkorte en ietwat afgeskaalde gedaante, kan voortgaan. Nie net is die kunstefeeste die brood en botter van kunstenaars nie, maar ook van verwante bedrywe en tot groot ekonomiese voordeel vir die plaaslike gemeenskap.”

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

Innibos het die afgelope jare ’n ekonomiese bydrae van gemiddeld R85 miljoen vir die plaaslike gemeenskap teweeg gebring. Talle tydelike werksgeleenthede word rondom die feestyd geskep en verskeie klein sakeondernemings is afhanklik van die fees vir ’n noemenswaardige gedeelte van hul jaarlikse omset, het hy gesê.

Volgens Lubbe is die voorlopige datum van 10 13 Desember.

“Ons sal uiteraard geringe aanpassings aan die program moet maak. Ons glo ook feesgangers is uitgehonger vir vermaak en ontspanning. Baie mense se inkomste en moontlike verlof sal beperk wees en daarom sal Innibos alles in ons vermoë doen om die fees as ’n gesellige vakansie-in-die-kleine aan te bied.”

Die pandemie is nie ’n rede om in sak en as te sit nie, aldus Lubbe. “Innibos sien dit as ’n uitdaging om met kreatiewe oplossings vorendag te kom en ons is slaggereed vir ’n nommerpas kunstefees in dié buitengewone omstandighede.”

Meer besonderhede oor die program sal mettertyd bekend gemaak word.


Baie dankie aan Die Hoërskool Menlopark sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

Related Articles

Back to top button