Local newsNews

Eerste Covid-19-geval in Bela-Bela aangeteken

Die plasing van dié berig op Die Pos se Facebookblad is moontlik gemaak deur Waterberg Toyota.

Die departement van gesondheid het op Woensdag 29 April amptelik bekend gemaak dat die eerste inwoner van Bela-Bela posistief vir Covid-19 getoets is.

Neil Shikwambane, woordvoerder van Phopi Ramathuba, provinsiale LUR van gesondheid, het aan Die Pos gesê ’n 77-jarige pensioentrekker, wat in ’n bekende aftreeoord in die dorp woon, is positief getoets vir die virus.

Tinus Ras, DA-raadslid, asook Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo, is deur die LUR gekontak om te help om die pasiënt by die naaste isolasie-eenheid in Modimolle te laat opneem, maar daar is intussen besluit dat hy homself tuis sal afsonder. Hy is volgens die departement reeds langer as ’n week in tuisafsondering.

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

Shikwambane het gesê hoewel die pasiënt met die virus gediagnoseer is, toon hy geen simptome van die siekte nie. Sy vrou, wat saam met hom woon, is negatief getoets, het Shikwambane gesê.

“Die departement is besig met ’n ondersoek om uit te vind met wie die man almal kontak gehad het. Die man het gereeld Gauteng toe gereis vir mediese behandeling en daar is ’n moontlikheid dat hy die virus daar opgedoen het, maar dit kan nog nie bevestig word nie.”

Shikwambane het gesê die gemeenskap van Bela-Bela moenie bevrees raak oor dié uitslag nie, maar hy raai steeds inwoners ten sterkste aan om goeie higiëne toe te pas en om dadelik hulp te soek wanneer hulle simptome van die siekte ervaar.

Smalle het by navraag gesê hoewel sommige mense geen simptome van die siekte toon nie, kan hulle steeds die virus aan ander oordra. Mense met swak immuunstelsels word veral aangeraai om hulself eerder af te sonder.


Baie dankie aan Waterberg Toyota sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

Related Articles

Back to top button