Local newsNews

Potte prut in Bela-Bela vir behoeftiges

Die plasing van dié berig op Die Pos se Facebookblad is moontlik gemaak deur Nylstene.

Die koronakrisis het vir sommiges begrotingsprobleme meegebring, maar vir ander letterlik ’n stryd teen hongersnood geword.

’n Groep vrywillers van Bela-Bela, onder leiding van bobaaskok Rika Kruger, sorg reeds sedert die begin van die inperkingstyd dat behoeftiges in die omgewing nie honger gaan slaap nie. Kruger is al geruime tyd deel van die plaaslike skole in die dorp se voedingskemas.

Sy het die afgelope week aan Die Pos gesê sy het aan die begin van die inperkingstyd te min geld gehad om ander te kon help.

“As dit nie was vir inwoner Jaco de Jager, wat die ernstige nood en die dringendheid daarvan onder my aandag gebring het nie, het my potte nie weer geprut nie. Ons het donasies van Bela-Bela SuperSpar, KFC en weldoeners uit Pretoria ontvang en kon danksy dié hulp weer begin kosmaak.”

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

Haar span het sedertdien die kos onder streng higiëniese maatreëls begin voorberei.

Die kosmaakspan lewer reeds die afgelope twee weke kos vir minderbevoorregtes in Spa Park af. Dit sluit 48 kinders in.

Die span het ook begin om vir bykans 50 bejaardes sop en brood te verskaf.

Inwoners wat ’n bydra wil lewer, is welkom om vir Kruger te kontak vir skenkings. Hulle benodig veral rys, groente, vleis en speserye.

Bel haar by tel. 082 558 0995.


Baie dankie aan Nylstene sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

Related Articles

Back to top button