Local newsNews

Dorp span saam teen hongerte

Die plasing van dié berig op Die Pos se Facebookblad is moontlik gemaak deur Radical Waters Hygiene Solutions.

’n Groot spanpoging deur organisasies en inwoners van Modimolle het daartoe gelei dat kospakkies aan sowat 400 huishoudings versprei kon word.

Die inperking weens die koronavirus het beteken dat talle gesinne hul inkomste verloor het.

Ivan Jacobs, woordvoerder van die Modimolle Food Drive, het aan Die Pos gesê van die mense was voorheen sake-eienaars wat belangrike bydraes tot die gemeenskap gelewer het, maar nou self nood ondervind. Gesinne wat voorheen deur Klub Helpmekaar van kospakkies voorsien is, word ook deur hierdie projek gehelp.

“Die Modimolle Food Drive het ontstaan toe ons besef het dat daar baie mense is wat probeer om gesinne in nood te help. Ons het besluit om ons pogings te koördineer om seker te maak dat almal gehelp word en dat daar nie verdubbeling van hulp plaasvind nie,” het hy gesê.

Skenkings van vrugte, groente en vleis van plaaslike boere, asook bydraes deur inwoners, ondernemings, gemeentes en gemeenksapsorganisasies, het gehelp dat kospakkies opgemaak kon word en deur vrywilligers versprei is. Organisasies en ondernemings soos die Nylstroom Dameskring, die Macs-motorfietsklub en supermarkte in die dorp het ook hul gewig agter die projek gegooi.

“Daar is kinders wat snags honger gaan slaap. Ons kan sien hoe die probleem uitkring,” het Jacobs gesê. Die kospakkies word na die woongebied, Phagameng en ook na gesinne op plase versprei.

“Die Moslem-gemeenskap help ons baie met verspreiding in Phagameng en ander vrywilligers lewer in die dorp af.” Die nodige permitte om as ’n noodsaaklike diens geklassifiseer te word het uitdagings vir die groep weldoeners geskep. “Mense het nie kos om te eet nie — ons moes eenvoudig aflewer,” het hy gesê.

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

Alle skenkings kan by Ster Radio in die hoofstraat afgelewer word. Dit word in kospakkies opgedeel en van daar versprei.

Die departement van sosiale dienste en die hulp-organisasie Rata het ook dié week by die projek aangesluit en sal hulp verleen om te verseker dat diegene op die lys wel hulp nodig het.

 

 

Die organisasie gebruik Klub Helpmekaar se bankrekening vir skenkings omdat hul registrasie reeds in plek is.

“Enige skenkings is welkom. Ons kan nie klaarvoorbereide kos versprei nie, maar wel vars groente en vrugte, vleis, brood en melk. Ons kan nooit genoeg mieliemeel hê nie — dit hou mae vol. Nie-bederfbare produkte soos blikkieskos en rys is baie nodig,” het hy gesê. Hy moedig mense aan om op’n volhoubare wyse te help met skenkings. “Dié krisis gaan nog ’n ruk lank met ons wees. Gee eerder soos wat jy kan oor ’n langer tydperk, as om te veel op een slag te gee en jou eie gesin dan tekort kom.”

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, is by hierdie projek, asook ’n kosverspreidingsprojek in Vaalwater, betrokke. Volgens haar het die Vaalwater-projek die afgelope week 350 kospakkies uitgedeel ná ruim skenkings van verskeie sakeondernemings en wildreservate. Die skenkings sal hulle in staat stel om sowat 1 000 kospakkies op te maak.

 

 

“Elkeen van die pakkies bevat mieliemeel, sardiens, boeliebief, bone, pasta, rys, suiker, koffie, tee, Cremora en seep. Die pakkies kan ’n gesin vir twee tot vier weke voed,” het Van Staden gesê.

“Ons koördineer tans ons veldtogte met die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) om seker te maak daar is gelyke kanse vir kosverligting in al ons dorpe. Die agentskap is tans in Mookgophong om kospakkies uit te deel.”

Kospakkies sal ook in Alma uitgedeel word.

Sy het gesê enige skenkings is welkom. Diegene wat self kospakkies benodig, word gevra om hul naaste maatskaplike werker te kontak.

Vir meer inligting bel vir Ivan Jacobs by tel. 082 653 2025, Janine Erasmus by tel. 079 636 6444 of Marlene van Staden by tel. 073 497 5636.


Baie dankie aan Radical Waters Hygiene Solutions sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

Related Articles

Back to top button