Local newsNews

Stil Paasnaweek vir Mookgophong

Die plasing van dié berig op Die Pos se Facebookblad is moontlik gemaak deur Waterberg Toyota.

Inwoners van Mookgophong is gewoond aan die druk verkeer oor Paasnaweek deur die hoofstraat wanneer busse met duisende pelgrims vir die jaarlikste Paasvieringe na Moria buite Polokwane pendel.

Vanjaar is dit egter die teenoorgestelde. Daar is bykans geen verkeer deur die dorp nie en geen gemors langs die strate te sien nie.

Dit is normaalweg oor Paasnaweek vir inwoners ’n nagmerrie om die verkeer te trotseer om dorp toe te gaan en verkeersbeamptes het hul hande vol om wet en orde te handhaaf. Dié roete eis ook jaarliks talle padgebruikers se lewens.

Ongelukkig kon die jaarlikse Fiëstafees, wat deur die Hervormde Kerk in die dorp aangebied word, ook nie vanjaar plaasvind nie. Dié fees lok altyd baie besoekers en is ’n groot gebeurtenis vir die gemeente en gemeenskap.

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

Vakansieoorde wat altyd volbespreek is oor Paasnaweek is vanjaar stil en inwoners wat bespreek het om na ander plekke te reis, moes noodgedwonge tuisbly.

Die eetplekke in die hoofstraat is gesluit. Een eienaar, wat anoniem wou bly, het aan Die Pos gesê Paasnaweek is gewoonlik haar besigste tyd van die jaar, maar vanjaar is daar geen inkomste nie. Gastehuiseienaars moes besprekings kanselleer en die verlenging van die inperkingstyd maak hulle baie bekommerd.

Talle inwoners het egter aan Die Pos gesê hulle geniet die stilte oor Paasnaweek en dat dit vir hulle ’n spesiale tyd is om self stil te raak en die lydingstyd en kruisiging van Christus te gedenk.


Baie dankie aan Waterberg Toyota sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

Related Articles

Back to top button