Local newsNews

Ses mense by MDR-hospitaal in Modimolle

Die plasing van dié berig op Die Pos se Facebookblad is moontlik gemaak deur Aida Bela-Bela.

Daar is nou ses pasiënte in die MDR-hospitaal in Modimolle wat geïsoleer word nadat hulle positief getoets het vir die Covid-19-virus.

Daar is altesame 20 mense in Limpopo positief getoets, waarvan 10 in die Waterberg-distrik is.

Dit sluit twee jong vroulike dokters van Modimolle in wat deur ’n hofbevel gedwing is om in dié hospitaal opgeneem te word eerder as om tuis in selfisolasie te wees. Die departement van gesondheid in Limpopo het vir groot opslae gesorg toe hulle dié hofbevel bekom het en die polisie en gesondheidswerkers, geklee in beskermde drag, die twee dokters Donderdagnag 2 April van hul huis in Modimolle na die hospitaal vergesel het.

Thivlivhali Muavha, woordvoerder vir dr. Phopi Ramathuba, LUR van gesondheid in Limpopo, het aan Die Pos bevestig dat daar aanvanklik agt mense in die hospitaal was, maar dat twee van hulle intussen herstel het en ontslaan is nadat hulle negatief vir die virus getoets is. Een van die pasiënte is ’n man wat van Gauteng na ’n nedersetting buite Tzaneen gereis het waar hy deur die polisie opgespoor is en na die hospitaal gebring is.

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

’n Man wat in Nigerië was en positief getoets is, is vanaf die MDR-hospitaal na die Pietersburg-hospitaal geneem nadat hy simptome begin toon het. ’n Vrou (53) is ook onlangs in die MDR-hospitaal opgeneem.

Volgens Muavha word die hospitaal slegs gebruik vir isolasie. “Ons het suurstof beskikbaar, maar die hospitaal is nie ingerig om ernstige mediese gevalle te hanteer nie. Indien die pasiënte simptome begin toon, word hulle na ’n hospitaal oorgeplaas wat ingerig is om hulle te behandel,” het hy gesê.

Luidens ’n mediaverklaring deur die department van gesondheid toon slegs drie van die mense wat in die Waterberg getoets is, simptome van die siekte.

Vier van die pasiënte het reeds negatief getoets en is ontslaan. Die gevalle in Limpopo is aangemeld in Polokwane (5), Tzaneen (1), Thulamela (3), Makhado (1), Lephalale (5), Mogalakwena/ Mokopane (3) en Modimolle (2).


Baie dankie aan Aida Bela-Bela sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

Related Articles

Back to top button