Local newsNews

Jy kan nie op ‘n leë maag leer nie

Die plasing van dié berig op Die Pos se Facebookblad is moontlik gemaak deur Hoërskool Menlopark.

Terwyl die meeste Suid-Afrikaners rondhardloop om ’n manier te vind om seker te maak skoolwerk raak nie agter nie, beroof die Covid-19-virus nou duisende kinders van hul enigste bron van voedsel.

Pres. Ramaphosa het aangekondig dat alle skole, insluitend kleuterskole, gesluit sal wees tot ná die Paasnaweek. Hierdie besluit, hoewel dit geregverdig is, het ’n krisis geskep vir baie kinders wat afhanklik is van die kos wat hulle by die skool ontvang. Benewens die feit dat hulle nie tuis eet nie, het die meerderheid van hierdie kinders bedags geen toesig nie en woon hulle in digbevolkte lewensomstandighede, dikwels met tussen agt en nege mense in ’n huis.

Volgens die SAVF, ’n organisasie sonder winsoogmerk wat daarop gemik is om ’n beter lewe te skep vir kwesbare gemeenskappe soos kinders en bejaardes, is isolasie nie die veiligste opsie vir dié in armer gemeenskappe nie. Die SAVF bestuur 31 sentrums vir kleuters in van die armste gemeenskappe in die land, wat ’n toevlugsoord bied vir meer as 5 000 kinders.

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

“Die verlengde vakansie plaas geweldige druk op huishoudings,” het Lizelle Minnaar, bestuurder van SAVF Teletubbies-sentrum in Pretoria-Noord, aan Die Pos gesê. “Die prys van medisyne en basiese sanitasieprodukte het ontsettend toegeneem — in sommige gevalle selfs verdubbel sedert die begin van die jaar. Dit maak dit basies onmoontlik vir ouers om hierdie kinders in ’n virusbestande omgewing te hê en daarom fokus ons daarop om hul immuunstelsel te versterk met gesonde kos en vitamiene. ”

Die SAVF sal die kinders, asook hul gesinne, van kospakkies voorsien om hulle te help om deur die verlengde vakansie te kom. “Met die winter om die draai het ons warm klere en selfs komberse nodig — bykans net soveel as wat ons kruideniersware en vitamiene nodig het.”

Dit is egter nie net kleuters wat swaarkry nie, maar ook die 9 miljoen leerders wat kos ontvang danksy die Departement van Basiese Onderwys se voedingsprojek.

Suid-Afrikaners moet nou meer as ooit tevore saamstaan en nie net aan hulself dink nie. Dit gaan verder as net die gebruik van seep en hoes in ons elmboë. Ons moet minderbevoorregtes help en hulle voorsien van basiese benodigdhede soos genoeg kos en ’n veilige omgewing tydens hierdie pandemie.

Om betrokke te raak of klere, kos of vitamiene te skenk, kontak die SAVF-nasionale kantoor in Pretoria by tel. (012) 325 3920 of stuur en e-pos na nviljoen-toet@savf.co.za(.)


Baie dankie aan Hoërskool Menlopark sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button