Local newsNews

Haweloses word in saal in Modimolle gehuisves

Die plasing van dié berig op Die Pos se Facebookblad is moontlik gemaak deur Fulro.

Haweloses in die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit se grensgebied is die afgelope paar dae met hul families herenig of in ’n gemeenskapsaal in die dorp gehuisves.

Dit sal geld vir die duur van die inperkingstyd.

Volgens burgemeester Marlene van Staden het die regering opdrag gegee dat haweloses in dié tyd gehuisves moet word. “Nadat ons met lede van die gemeenskap vergader het, het ons besluit om die Yusuf Dadoo-saal in die AS Salaam-woonbuurt in Modimolle vir hierdie doel te gebruik,” het sy gesê.

Hoewel die gemeenskap aanvanklik skepties was, het hulle ná die vergadering tot die besluit ingestem. Daar is onder meer aan hulle verduidelke dat daar 24 uur-sekuriteit sal wees en dat die mense nie mag rondloop nie. Die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) sal ook daagliks kospakkies aan die haweloses verskaf.

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

Die Pos het verlede week met een van Modimolle se bekende haweloses gepraat. Hy het in leë asblikke in ’n verlate hoofstraat gekrap vir iets om te eet.

Teen Vrydag 3 April was daar reeds nege haweloses van die straat verwyder. Drie is met hul families herenig en drie is in die saal gehuisves. “Ongelukkig was die ander drie se gesondheid só swak dat hulle in die F.H. Odendaal-hospitaal in die dorp opgeneem moes word,” het Van Staden gesê. Daar sou vandag, Maandag 6 April, nog nege mense in Mookgophong gehaal word. “Ons gaan kyk of ons van hulle met hul families kan herenig,” het sy gesê.

Sy het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om tweedehandse mansklere, seeppoeier en komberse te skenk. “Ons het reeds skenkings van seep en tandeborsels gekry, maar wil hulle graag laat skoon aantrek voordat ons hulle huisves,” het sy gesê. Die nagte raak ook koud en die enkele dun kombers wat hulle het, is nie voldoende nie.

Skenkings kan by Ster Radio in Modimolle se hoofstraat afgelaai word.


Baie dankie aan Fulro sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

Related Articles

Back to top button