Local newsNews

Só gaan dit in Thabazimbi

Die plasing van dié berig op Die Pos se Facebookblad is moontlik gemaak deur Supa Quick/Summit Modimolle.

In Thabazimbi — net soos in verskeie ander plattelandse dorpe — word die strate al hoe stiller terwyl die koswinkels nog kreun soos wat hordes mense soveel moontlik op een slag koop terwyl die 21 dae lange inperking voortduur.

Die geriefswinkels by vultasies is ook die afgelope paar dae druk besoek deur kliënte wat nie kans gesien het vir die gedrang by die supermarkte nie.

 

Kliënte voor Medhof Apteek in Thabazimbi wag om in te gaan. Foto: Verskaf

 

Die dag voordat die inperking ingetree het (Donderdag) was daar bykans geen parkeerplek by die parkeerterreine by die inkopiesentrums in die dorp beskikbaar nie. Dit was kompleet asof mense gereken het dat die koronavirus tot op daardie stadium nie oordraagbaar is nie en eers die volgende dag amptelik oorgedra kon word.

Die leë parkeerplekke voor eetplekke was teen vandag (dag sewe) opmerklik, maar by die supermarkte is daar steeds rye mense wat buite met hul trollies wag. Daar is ook talle mense op die sypaadjies te sien met inkopiesakke in hul hande.

Daar is min voertuie in die strate en dit lyk asof dié wat wel ry, slegs van hul huise na die inkopiesentrums ry.

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

Binne die winkels is die rakke op die oog af vol.

By Medhof Apteek in die Thaba Mall in die dorp word streng maatreëls getref en daar is geen samedromming van mense nie.

Die veiligheidsmaatreëls wat by Medhof Apteek ingestel is, sluit in temperatuurmeting voordat kliënte die perseel betree, asook die ontsmetting van kliënte se hande. Daar word ook ’n afstand van 1 m tussen mense wat wag om bedien te word, sowel as by die bedienings- en kassieretoonbanke, gehandhaaf.

Alle oppervlaktes, telefone, kaartmasjiene en die outomatiese teller word gereeld ontsmet en met sluitingstyd word die hele apteek met ’n baie doeltreffende ontsmettingsmiddel uitgespuit, het Die Pos verneem.

Danie van Niekerk, apteker, het aan Die Pos gesê daar is steeds ’n groot vraag na handskoene, maskers, vitamines wat die immuunstelsel verbeter en griepinspuitings. Hoewel daar ’n groot tekort in die land aan hierdie items is, probeer hulle sorg dat hulle wel voorraad ontvang.


Baie dankie aan Supa Quick/Summit in Modimolle sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

Related Articles

Back to top button