Local newsNews

Die koronavirus wys ook sy tande in Modimolle

’n Jong dokter wat by die Mmametlhake-hospitaal in Mpumalanga werk, is positief vir die Covid-19-virus getoets.

Mmametlhake is nie ver van Settlers op die Springbokvlakte geleë nie.

Die dokter is oorspronklik van Modimolle en tans in dié dorp in isolasie.

Dumisani Malamule, woordvoerder van die departement van gesondheid in Mpumalanga, het dié inligting aan Die Pos bevestig. Volgens hom het die dokter onlangs na Kaapstad en Johannesburg gereis. Sy en haar kamermaat, wat by dieselfde hospitaal werk, is positief deur ’n privaat laboratorium getoets, het hy gesê.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het aan Die Pos gesê die LUR vir gesondheid in Limpopo, dr. Phophi Ramathuba, het haar vanoggend hieroor gekontak. “Ek is die versekering gegee dat die dokter en almal wat met haar in aanraking was, gekontak word sodat hulle kan self-isoleer en getoets word. ’n Huiswerker is ook moontlik blootgestel,” het Van Staden gesê.

AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, het vanoggend aan Die Pos gesê die polisie het reeds verskeie mense in hegtenis geneem omdat hulle sonder geldige rede op straat was. Daar is ook toegeslaan op plekke wat onwettig drank verkoop het.

Die Pos moedig inwoners aan om die virus se bedreiging ernstig op te neem en liefs tuis te bly.

Related Articles

Back to top button