Local newsNews

Mookgophong se inwoners stééds nie tuis

Die Pos het teen ongeveer 11:00 vandag (Saterdag) deur die strate van Mookgophong beweeg en was ontnugter oor die bedrywighede wat stééds in die hoofstraat aan die gang is.

Regeringstoelaes (SASSA) vir bejaardes in die dorp is vandag uitbetaal, maar nogtans was die meerderheid mense in die strate jongmense en kinders. Die Pos het aan ’n vrou, wat met twee kinders in die straat gestap het, gevra waarom sy hulle saam met haar geneem het. Haar antwoord was dat sy “nie bang is vir die virus nie”.

’n Personeellid van ’n groot kosonderneming in die dorp, wat verkies om anoniem te bly, het vertel dat sommige kopers uiters ongeskik raak wanneer hulle versoek word om handreiniger te gebruik. “Een persoon het my skeef aangekyk en verontwaardig gevra waarom ek ’n masker en handskoene dra en of ek bang is dat sy my sal aansteek,” het die vrou vertel.

 

 

Twee kinders jonger as 12 jaar het doodluiters gesê hulle het van Sektor 1 af dorp toe gestap om na ’n selfoonwinkel te kom. Hulle het nie geweet van die gevaar van die virus nie.

Ander mense het rustig buite van die kleiner winkeltjies wat kos verkoop gesit en kuier.

Daar was lang rye mense wat, styf teenmekaar, buite U-save gewag het om in die winkel toegelaat te word.

By die stortingsterrein was die mense wat herwin soos elke ander dag besig om sake te doen. Dit was egter stil en rustig in die woonbuurt waar slegs twee voertuie opgemerk is.

Die Pos vertrou dat inwoners regtig die gevaar van die koronavirus ter harte sal neem en by die wet sal hou. Ons doen ook ’n beroep aan inwoners om die erns van die situasie aan mense te verduidelik wat dit dalk nie begryp nie.

Related Articles

Back to top button