Local newsNews

Modimolle maak sy rug styf teen virus

Die opspraakwekkende Corona-virus (Covid-19) laat niemand onaangeraak nie.

Beslis ook nie inwoners van plattelandse dorpe nie. Inwoners van Modimolle was die afgelope week in rep en roer om voorbereidings te tref om die verspreiding van die virus te bekamp.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het op Dinsdagmiddag 17 Maart bevestig dat hulle reeds vergaderings gehad het om ’n noodplan op te stel.

“Maak nie saak wat gebeur nie, die munisipaliteit moet steeds aanhou dienste lewer,” het sy gesê. “Ons moet verseker dat water verskaf word, dat ons werknemers veilig is en kommunikasiekanale met inwoners oop is, al kan ons nie groot vergaderings hou nie.”

Ook die Kokanje-aftreeoord het planne gemaak om die gesondheid van sy honderde inwoners te verseker. Inwoners is in kennis gestel dat alle byeenkomste in die saal opgeskort is. Etes moet afgehaal word in opskepbakke en die oord vra dat die minimum mense opdaag en ’n afstand van ’n meter tussen mekaar hou. Hulle het ook gevra dat besoekers beperk moet word en dat inwoners twee keer dink voordat hulle winkelsentrums of ander openbare plekke besoek.

Kleuterskole het Maandag ’n skrywe van die onderwysdepartement ontvang dat hulle hul deure moet toetrek. Volgens Dalene Kriel van die Brakanjan-kleuterskool is dit moeilik vir werkende ouers.

“Dit is veral enkelouers wat met hul hande in hul hare sit,” het sy gesê.

Kleuterskole is meestal privaat ondernemings en moet steeds hul uitgawes dek, al is hul deure toe.

Van die ondernemings tref maatreëls sodat soveel moontlik van hul personeel tuis werk. Diegene wat met die publiek moet werk, word toegerus met ontsmettingsmiddel en van hulle hanteer glad nie kliënte se bankkaarte nie. maar laat hulle dit self in die kaartmasjiene druk. ’n Kassier by een van die vulstasies het aan Die Pos gesê: “Ons is baie bang vir hierdie siekte wat kom.”

Heleen Swart van die Lekkerbly Gastehuis het gesê hulle tref deeglike voorbereiding om hul besoekers veilig te hou. Elke gas ontvang handskoene, ’n inligtingstuk oor die virus en ontsmettingsmiddel vir hul hande. Alle beddens word daagliks behandel. “Ons het sedert die president se toespraak Sondag tien kansellasies gehad. Die oorsese firmas waarmee ons werk, het laat weet dat hulle nou geen gaste gaan stuur nie. Die mense is baie bang. Klein ondernemings sal tydens hierdie krisis baie swaar kry,” het sy gesê. Die gastehuis se personeel het ook vitamienes gekry en handskoene om mee te werk.

Howe word ook geraak. Hoofregter Mogoeng Mogoeng het op Dinsdag 17 Maart aangekondig dat toegang tot hoërhowe beperk sal word tot mense wat direk betrokke is by die hofsake.

Die NG Gemeente Waterberg het hul lidmate in kennis gestel dat eredienste voorts in wyksgroepe of klein groepe sal plaasvind. Ds. Riaan Odendaal het gesê dat leraars weekliks materiaal sal verskaf. Die gemeente is bekommerd omdat ’n groot deel van hul lidmate ouer mense is, wat in die hoërisikogroep val. Ander byeenkomste soos kategese, Bybelstudie, etes en Lydensangdiens is vir eers uitgestel.

AO James Findlay van die Modimolle-polisie het gesê ontsmettingsmiddel vir hande is in die aanklagkantoor beskikbaar . Polisielede sal ook maskers dra. Die aanklagkantoor en die selle word op gereelde basis ontsmet. Daar is ook plakkate aangebring oor hoe om die verspreiding van die virus te verhoed.

Die MDR-hospitaal in Modimolle, waar pasiënte met weerstandige TB behandel word, is na bewering deur die provinsiale gesondheidsdepartement geoormerk as ’n moontlike isolasie-eenheid. Dié hospitaal is grootliks reeds ingerig om hoogs aansteeklike gevalle te hanteer en het meestal min pasiënte. Volgens ingeligtes staan van die vleuels meestal leeg.

Teen druktyd kon geen kommentaar van die departement verkry word om dit te bevestig nie.


  • Kennisgewing: Koronavirus verslaggewing deur Caxton Local Media poog om fopnuus te kniehalter

Beste leser,

As jou plaaslike nuusverskaffer is dit ons plig om jou ingelig te hou van alle feite rakende COVID-19. Baie fopnuus doen die rondte aanlyn. Caxton Local Media werk gedetermineerd deur massas beskikbare inligting met die doel om waarheid van leuens te onderskei. Sodoende hou ons jou ingelig.

Ons plaaslike nuuskantore volg ‘n streng protokol wanneer dit kom by nuuswerwing en publikasie. ‘n Nasionale taakspan is daargestel om seker te maak dat jy geloofwaardige nuus oor die koronavirus kry.

Lesers met navrae of kommentaar kan ons nasionale groepredakteur, Irma Green (irma@caxton.co.za) of regsadviseur Helene Eloff (helene@caxton.co.za) kontak.

Related Articles

Back to top button