Local newsNews

GrysKrag vat hande met gemeenskap

Die Waterberg-gemeenskap het op Saterdag 14 Maart by die Weesgerus-oord buite Modimolle in ’n voldaggesprek met lede van GrysKrag getree.

Die gaste het sakelui, boere, plaaslike inwoners en die burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, Marlene van Staden, ingesluit.

GrysKrag is ’n nie-winsgewende organisasies wat senior burgers se fisieke en sielkundige gesondheid wil bevorder deur allerlei stimulerende aktiwiteite. Hulle bevorder ook die konsep van seniors se kundigheid wat tot voordeel van die gemeenskap aangewend word.

Die sprekers by die geleentheid, dr. Roelf Meyer en Mohammed Bhabha, het die belangrikheid van sosiale kohesie beklemtoon.

Van Staden het klem gelê op die bestuursprobleme in die munisipaliteit. Sy het gesê daar is eenvoudig te veel mense wat onproduktief is en nie opgelei is vir die taak wat hulle verrig nie. Die sprekers het ook aangedui die uitvloei van kundigheid uit die staatsdiens het ’n groot leemte gelaat. Mense met meriete moet voortaan aangestel word, is gevra. Verder moet die privaat sektor en die owerheidsektor nouer saamwerk om ontwikkeling te bevorder.

Prof. Albert Venter, ’n inwoner van die Kokanje-aftreeoord buite Modimolle, het bereken dat senior burgers van die aftreeoorde in Modimolle jaarliks, met inagneming van die vermenigvuldigingseffek, sowat R1 miljard tot die omgewing bydra.

Verskeie kundiges en leiers op hul gebied in die gemeenskap het bydraes gelewer en daar is tydens die middagsessie besluit om ’n werkskomitee saam te stel om die vraagstukke in die omgewing uit te lig. Die komitee sal bestaan uit Danie Steyn, James van Zyl, Fanie Pretorius, Jaco Bogaards, dr. Salomon Joubert en prof. André de Villiers. Die komitee streef daarna om samewerking tussen verskillende belange- en rasgroepe in die gebied te bevorder.

Daar sal gefokus word op die uitken van vraagstukke waar GrysKrag-lede kan bydra. Verder kan hulle behulpsaam wees in die soeke na innoverende oplossings. Die algemene gevoel was dat hierdie gesprek nuttig was en dat dit ’n positiewe bydrae kan lewer tot toekomstige ontwikkeling in die Waterberg-distrik.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button