Local newsNews

Groot planne vir Limpopo beoog

Die Waterberg-sakekamer het nie net hul nuwe bestuurspan tydens hul maandelikse vergadering verkies nie, maar ook meer oor groot planne vir Limpopo aangehoor.

Sakelui het op Donderdag 12 Maart by Bosvaria by Hoërskool Nylstroom vergader waar hulle inligting gekry het oor die beplande eko-industriële park in Musina. Die spreker, dr. Pieter du Toit, het ’n oorsig gegee van die jarelange stryd wat die Limpopo Economic Industrial Park (LEIP) gehad het om hul ambisieuse ontwikkeling van die grond te kry.

Die ontwikkeling sal Suid-Afrika se eerste eko-industriële gebied wees wat daarna streef om geen soliede afval te produseer nie deur die gebruik van ’n “plasma gasifier”. Mediese-, kommersiële- en industriële afval word tot 2000 ºC verhit en die eindproduk, wat bykans soos swart glas is, kan vir konstruksie en paaie gebruik word.

Volgens Du Toit gebruik Holland jare lank reeds dié metode om paaie te bou. Agri-verwerking, ’n betonfabriek, ’n koperverwerkingseenheid en fabrieke wat kunsmis (wat tans alles ingevoer word) vervaardig, is deel van die beplanning. Die ontwikkeling sal ’n groot ekonomiese inspuiting vir Limpopo wees en duisende werkgeleenthede skep. Dit is strategies geleë naby die grens, die snelweg en treinspoor,” het hy gesê. Bykans 5 000 wooneenhede en die opgradering van Musina se watertoevoer word beoog.

Chinese sakelui het, volgens Du Toit, ook meegeding om goedkeuring vir hul eie projek. Die LEIP-projek is onafhanklik daarvan.

Een van die groot uitdagings is die beskikbaarheid van water. Du Toit het genoem dat vloedwater vanuit Mosambiek na twee groot damme, wat opgerig sal word, gepomp sal word.

Groot sonkragstelsels sal op die damme opgerig word. Dié water sal dan ook aan Musina verskaf word, wat soos menige ander plattelandse dorpe met waterverskaffing stoei. Waterregte vir die ontwikkeling is reeds toegestaan.

Die groep was ook op hete kole om te hoor of LEIP as een van pres. Cyril Ramaphosa se voorkeurontwikkelingsprojekte gekies sou word. Volgens Du Toit was dit reeds een van die gunstelinge. Hy was vol lof vir die span van die presidensie waarmee hulle te doen gekry het en het gesê dat hulle nie tyd mors nie.

“Hulle benadering is heeltemal anders as waarmee ons in die Zuma-era te doen gekry het.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button