Local newsNews

Gesonde 88 jaar vir een van Thaba se oudste inwoners

Een van Thabazimbi se oudste inwoners, Vollie Volschenk, het op Woensdag 11 Maart sy 88ste verjaarsdag gevier.

Hy is reeds 41 jaar ’n inwoner van Thabazimbi nadat hy in 1978 vanaf Hoërskool Vorentoe na Hoërskool Frikkie Meyer oorgeplaas is waar hy Afrikaans en aardrykskunde aangebied het. Hy het in 1981 ’n senior pos by Laerskool Thabazimbi aanvaar waar hy hoofsaaklik wiskunde onderrig het tot met sy aftrede in 1992.

Een van Volschenk se groot liefdes is gholf. Hy is sedert 1979 lid van die plaaslike gholfklub en het vir bykans 30 jaar op die komitee gedien as klubkaptein, sekretaris en klubbestuurder en is ook vereer as een van die klub se erelede.

 

Vollie en Rita Volschenk van Thabazimbi, saam met sy suster, Talla Etheridge (links) en Rita du Plessis. Talla het al die pad van Cyprus kom kuier om haar broer se 88ste verjaarsdag saam met hom en sy gesin te vier.

 

Hy het vir 12 jaar die gholfklub op die Gauteng Noord-gholfkomitee verteenwoordig en is sedert 1987 lid van Waterberg Sages-span waar hy ook erekleure ontvang het.

Volschenk sê hoewel hy nog gereeld ’n potjie gholf op Woensdae speel, het die ouderdom maar sy beperkings.

Volschenk het sy vrou, Rita, ontmoet toe sy vanaf die destydse Ellisras na Thabazimbi oorgeplaas is ná haar man se dood. Nadat sy ’n ruk in Stellenbosch gewerk het, het sy in 1986 ’n onderwyspos by Laerskool van Wykskraal aanvaar.

Hulle het toe weer ou bande hernu en is in 1988 getroud. Sy is 1989 na Laerskool Thabazimbi oorgeplaas. Rita was ’n toegewyde onderwyser en as kultuurorganiseerder het sy haar kant gebring met talle produksies, kunswedstryde en eisteddfods. Sy het in 2006 die KunsteGrot tot stand gebring en met groot onderskeiding van die land se bekendste kunstenaars na Thabazimbi gebring.

Vir Vollie is taal sy trots en sy eerste gedig is reeds in 1942 in die destydse Jongspan, wat deel was van die tydskrif Brandwag was, gepubliseer. Dig en skryf was maar al die jare deel van sy tydverdryf. Sedert die ATKV op Thabazimbi bedrywig geraak het, was hy ’n gereelde deelnemer aan hul poësiekompetisies waar hy talle toekennings verower het.

Hy is ook verskeie jare reeds lid van die Woordgilde van Pretoria met talle van sy gedigte wat in bundels opgeneem is.

Hy het juis verlede jaar sewe gedigte vir die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA) se kompetisie in Pretoria ingestuur. Al sy gedigte is aanvaar en hy het ’n prys van die Groep 7 Drukkers gekry om sy eie bundel te publiseer. Met harde werk en sy vrou se liefde en aanmoediging kon hy 61 gedigte wat oor baie jare ontstaan het, persklaar maak en vir publikasie stuur. Hy het ook stories geskryf en van hierdie verhale het in Vrouekeur verskyn.

Vollie was verras toe hy die eerste uitgawe van sy digbundel: Eenvoudig, Dis Ek, op sy 88ste verjaarsdag ontvang het. Maar die grootste verrassing was sy suster, Talla Etheridge, wat in Cyprus woon, se kuiertjie.

Sy beker van geluk het oorgeloop toe hy ná die gholf Woensdag deur Rita verras is met ’n heerlike kuierpartytjie saam met ’n groep wonderlike vriende.

Related Articles

Back to top button