Local newsNews

Limpopo-hospitale gereed vir Corona-virus

Suid-Afrikaners hou, nes die res van die wêreld, asem op om te kyk waar die gevreesde Corona-virus volgende gaan toeslaan.

Paniek het geheers nadat die nasionale instituut vir oordraagbare siektes (NICD) op Donderdag 5 Maart aangekondig het dat die eerste positiewe geval in die land in KwaZulu-Natal bevestig is.

Ook Waterbergers was op hol toe daar op Vrydag 6 Maart vals bewerings op sosiale netwerke versprei is dat daar “meer as een pasiënt” by die Warmbad-hospitaal met dié virus gediagnoseer is.

Bhuti Moagi, woordvoerder van die hospitaal, het by navraag aan Die Pos gesê daar steek geen waarheid in hierdie beweringe nie.

“Die meeste mense is oningelig oor die onderwerp. Die minister van gesondheid en die NICD is die enigste bronne wat korrekte inligting van bevestigde gevalle kan uitstuur. Inwoners moet eerder op dié betroubare bronne staatmaak. Ons omgewing is veilig,” het Moagi gesê.

Die Corona-virus (COVID-19) het in Desember in Wuhan, China uitgebreek.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) word die siekte van persoon tot persoon oorgedra deur klein hoeveelhede speeksel wat mense uithoes of nies en deur ander ingeasem word.

Die simptome van die siekte sluit ’n kombinasie van koors, moegheid en ’n droë hoes in. Sommige pasiënte ervaar pyn, het erge sinus, ’n seer keel of diarree.

Teen druktyd het die WHO bekendgemaak dat meer as 100 000 gevalle regoor die wêreld aangemeld is. Altesame 3 281 mense is reeds dood weens die virus.

Ten spyte van die deurlopende proaktiewe- en reaktiewe maatreëls, bly die virus versprei.

Die 38-jarige pasiënt van KwaZulu Natal was deel van ’n groep van 10 mense wat op ’n toer na Italië was en op Sondag 1 Maart teruggekeer het na Suid-Afrika. Hy het op Dinsdag 3 Maart simptome van die virus getoon en ná mediese behandeling is hy in isolasie geplaas. Die ander mense wat deel was van die reisgroep, is reeds in isolasie geplaas, het dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, gesê. Teen druktyd was daar reeds 13 Suid-Afrikaners met die COVID-19-virus onder lede.

Die vraag op almal se lippe is of Suid-Afrika se gesondheidstelsel gereed is om die virus te bekamp en te beheer?

Geen COVID 19-geval is tot dusver in Limpopo aangemeld nie. Derick Kganyago, provinsiale woordvoerder van die departement gesondheid, het by navraag gesê die minister het nog geen verdere reëlings of nuwe protokolle aan die provinsie deurgestuur ná die eerste bevestigde geval in Suid-Afrika nie.

“Die departement het reeds een amptelike isolasie-area in die provinsie ingerig waar pasiënte behandeling kan kry. Bevestigde COVID-19-pasiënte sal by die staatshospitaal in Polokwane behandel word. Die naaste ander isolasie-area is by die Steve Biko-hospitaal in Pretoria ingerig,” het hy gesê.

Die Pos het by die Phodi-kliniek in Bela-Bela aangeklop waar daar ook voorsorgmaatreëls getref is. “Ons het maskers en die nodige beskermde uniforms vir ons personeel,” het ’n lid van die bestuurspan gesê.

Indien pasiënte met simptome van die virus by dié hospitaal opdaag, sal toetse eers gedoen word.

“Die dokter aan diens voltooi dan ’n vorm met die pasiënt se detail en rapporteer dit direk aan die NICD. Die NICD sal, op grond van die uitslae van die toetse, bevestig of die pasiënt die COVID-19 virus onder lede het of nie. Indien wel, sal die pasiënt na een van ons afsonderingsale verskuif word en daarna dadelik na Polokwane oorgeplaas word.”

Die inkubasietydperk vir die virus is 10-14 dae.

Die Phodi-bestuurspan het verder gesê bejaardes en mense wat ’n swak immuunstelsel het, is meer vatbaar vir enige virus, insluitend die COVID-19-virus. Mense wat nie onlangs na gebiede gereis het waar die virus hoogty vier of in kontak was met mense wat dit gedoen het nie, se kanse is bitter skraal om die virus op te doen.

Volgens die Centre for Disease Control (CDC) is daar ’n reisverbod na China, Iran, Italië en Suid-Korea.

Daar word nog navorsing gedoen om ’n teenmiddel vir die COVID-19-virus te ontwikkel.

  • Die owerhede raai landsburgers aan om nie paniek te saai deur fopnuus te versprei nie. Dit is egter belangrik dat mense ordentlike higiëniese praktyke toepas om enige virusse te vermy.

Related Articles

Back to top button