Local newsNews

Die mooi storie agter Thabazimbi se Kunstegrot

Rita Volschenk van Thabazimbi is ’n dromer én ’n doener.

As ’n mens hierdie twee werkwoorde saamgooi, dans die poppe. Op die verhoog. In dié dorp se eie teater wat bekend staan as die Kunstegrot.

Die spore wat Volschenk in die kultuurlandskap van Thabazimbi getrap het, loop diep.

Sy het haar eerste spoor in 1989 by Laerskool Thabazimbi getrap waar sy as onderwyser by dié skool se kultuurprogram betrokke geraak het. Later is die Thabazimbi Kunste Eisteddfod, wat vir 29 jaar onder haar leiding gestaan het, gebore. Dié kunstefees staan deesdae bekend as die ATKV Dramafees.

So tussendeur het Volschenk ook begin om dramaklasse vir skoolleerders aan te bied en in 2006 het sy ’n amateurtoneelgroep vir volwassenes gestig.

Dié toneelgroep het onder meer in ’n voorprogram vir Carel en Petru Trichardt opgetree en is selfs genooi om in die destydse Teaterhuisie in Sunnyside in Pretoria op te tree. Later was daar ook optredes in die Pierneefteater in Pretoria-Moot.

Terug in Thabazimbi was dit maar altyd vir die toneelgroep ’n kopseer om ’n lokaal te vind om in te oefen. En dit is hoe Volschenk se droom vir ’n eie plattelandse teater ontstaan het.

’n Perseel wat aan Eskom behoort en vir baie lank leeg gestaan het, het Volschenk se oog gevang. Ná vele oproepe oor ’n tydperk van ses maande het ’n afgevaardigde van Eskom se eiendomsafdeling uiteindelik ingestem om Volschenk in Thabazimbi te ontmoet, waarna ’n huurooreenkoms aangegaan is.

Die perseel was ongelooflik verwaarloos, maar in Volschenk se kop het sy reeds ’n teater in wording gesien. Sy het die gemeenskap en sakelui genader vir bydraes en borgskappe en die eerste Kunstegrot, met 90 sitplekke, is amptelik op 2 Junie 2006 ingewy met ’n vertoning van Jak de Priester.

Sewe jaar lank het die dorpsmense heerlik gekuier in hierdie eerste teater.

Eskom het egter in 2012 die huurkontrak beëindig omdat hulle self die perseel vir kantoorruimte wou gebruik. Die soektog vir ’n ander perseel het weer begin.

Die woord “opgee” bestaan nie in Volschenk se woordeskat nie, maar “moedeloos” wel. Toe moedeloosheid haar op ’n dag wou toegooi, het ’n plaaslike sakeman, Hannes Coetzee, by haar ingestap en haar opgelaai om haar “iets” te gaan wys.

Hulle het hoog teen die berg opgery en ’n hele ent buite die dorp het Coetzee by een van sy winkelstore stilgehou. Hy het haar tussen sy winkelvoorraad op ’n drom laat sit en gesê sy moet haar oë toemaak en “droom van haar teater”.

Volschenk moes diep in haar kreatiewe gedagtes delf om ’n teater “te droom”. Stadig maar seker het die droom egter gestalte aangeneem en met Coetzee en die res van die dorp se hulp en bydraes, is daar met die restourasie en inrig van die tweede, en heelwat groter, Kunstegrot begin.

Die plaaslike hoërskool het ’n klavier geskenk wat deur ’n plaaslike loodgieter, Sarel Potgieter, gerestoureer is en waarop die kunstenaars Rocco de Villiers én Coenie de Villiers al die lieflikste klanke losgespeel het.

Die “nuwe” Kunstegrot het in Mei 2013 met ’n vertoning deur Mathys Roets geopen en die dorp se mense het weer heerlik saamgekuier.

Daar tree amper maandeliks ’n bekende kunstenaar by die Kunstegrot op en die teater word ook deur die gemeenskap gebruik vir onder meer skoolkonserte, modeparades, uitstallings, werkwinkels en die ATKV Dramafees. Volschenk se dramaskool, waar sy weekliks haar liefde vir toneel aan 63 skoolleerders oordra, word ook in die teater gehuisves.

Related Articles

Back to top button