Local newsNews

Honderde kleur en sny hul kapsels vir Kansa

Die jaarlikse Kansa Shavathon waar die hare waai en mense hul hare pienk, blou, geel en papegaaibont kleur om geld in te samel vir die kankerorganisasie, het vanjaar besonders goed in die Waterberge afgeloop.

Laerskool Nylstroom het die grootste bedrag wat by laerskole in Limpopo ingesamel is, bymekaar gemaak. Die skool se leerders het meer as R23 000 ingesamel.

Drie dogters, Mia Pretorius, Minette van Jaarsveld en Anri Loots het hul poniesterte korter gesny en die hare aan Kansa geskenk vir die maak van pruike vir diegene wat hul hare ná chemoterapie verloor.

Skole en ondernemings regoor die lesersgebied het ingespring om te help geld insamel. Laerskool Warmbad het R6 581,80 ingesamel, Hoërskool Nylstroom R2 767 en Academia Private School R1 247. Die Kokanje-aftreeoord het R2 870 bymekaar gemaak en Autozone Naboom het R2 730 ingebring.

“Baie dankie aan elkeen vir hul positiewe gesindheid teenoor Kansa,” het Ansie van Heerden van die organisasie gesê.

Kansa bied ondersteuning aan mense wat met kanker gediagnoseer is en doen bewusmaking oor die siekte om vroeë opsporing aan te moedig.

Vir meer inligting skakel Kansa se kantoor by tel. (014) 717 3950. Hulle is in Friedbergstraat 38 in Modimolle geleë.

Related Articles

Back to top button