Local newsNews

Sakelui van twee dorpe sit koppe bymekaar

Die Naboomspruit-sakekamer in Mookgophong het besluit om die Waterberg-sakekamer se voorsitter, Wiets Botes, te nooi om met die sakelui van die dorp te gesels oor die buitensporige hoë elektrisiteitsrekeninge wat hulle ontvang het.

Die vergadering is deur sowat 40 sakelui en inwoners bygewoon. Die byeenkoms is op Dinsdag 25 Februarie in die Nederduits Hervormde Kerk se saal in die dorp gehou. Botes het verduidelik wat die waarde van ’n sakekamer vir ’n dorp is en hoe die Waterberg-sakekamer bestuur word.

Gerhard Breytenbach, prokureur van Modimolle wat ook die Waterberg-sakekamer se regsake behartig, het aan die vergadering verduidelik hoe die nuwe formaat van elektrisiteitsrekeninge werk en gesê dié rekeninge word nie ingevolge wetgewing behoorlik beskryf nie. “Die rekeninge kan nie ook as kennisgewing dien vir die afsny van elektrisiteit en laatbetaling nie. Ons sal moet saamstaan en struktureer sodat ons sulke foute en probleme kan uitwys. Ons sal skriftelike vertoë moet rig voor die begrotingsproses begin,” het Breytenbach gesê.

Mokone du Preez, voorsitter van die Naboomspruit-sakekamer, het die vergadering gelei en ook beswaar aangeteken omdat sy elektrisiteitsrekening by sy kruideniersaak in die dorp sedert Desember 2019 met R80 000 verhoog is. Hierdie verhoging word toegeskryf aan die kragonderbrekings en beurtkrag in die dorp.

Koos Lancaster, wat ’n plastiekfabriek net buite die dorp bedryf, het dieselfde probleem geopper.

Die voordeel vir die omskakeling van munisipale elektrisiteit na selfherwinde sonkrag is ook bespreek en inwoners was baie opgewonde oor die besparings wat dit kan meebring.

Related Articles

Back to top button