Local newsNews

Hiënas glo weer in woongebied opgemerk

Inwoners van Bospoort in Bela-Bela was op Saterdag 29 Februarie behoorlik uit die veld geslaan toe hulle glo op ’n trop hiënas afgekom het.

’n Ooggetuie het aan Die Pos gesê sy en haar man het tussen 19:30 en 20:00 die trop in die omgewing van die Kiewietsingel-woonkompleks gewaar, waarna die diere in die nabygeleë riete verdwyn het.

Die laaste keer dat ’n hiëna in die omgewing opgemerk is, was in Januarie in Van der Merwestraat. ’n Veiligheidskamera het dié bruinhiëna laataand op film vasgelê waar hy by vullishouers gesnuffel het.

“Ons almal in Bospoort is daaraan gewoond om daagliks wilde diere te sien, maar die hiënas bekommer ons, want netnou val hulle iemand of ons diere aan,” het die ooggetuie aan Die Pos gesê.

Rudi Janse van Vuuren, veiligheidspesialis, sê hiënas is geneig om alleen vir kos te gaan soek. Wanneer hulle in troppe beweeg, soos wat onlangs gesien is, kan dit wees dat dit ’n wyfie en haar kleintjies is.

“Bruinhiënas is onder normale omstandighede nie geneig om mense te bedreig nie en sal eerder wegskram van mense. Dit is egter moeilik om hierdie hiënas te identifiseer met die min inligting wat beskikbaar is,” het hy gesê. “Indien mense op spore afkom, kan hulle my kontak.”

Kobus Pienaar, verteenwoordiger van die departement van omgewingsake (Ledet) in Modimolle, het vroeër gesê dit is nie ongewoon vir hiënas om snags in woonbuurtes gesien te word nie.

“Bruinhiënas is nagdiere, kom wyd verspreid voor en geniet beskermde status. Hulle word erken as aasdiere en is geneig om in bewoonde gebiede mense se vullis uit te snuffel. Hulle kan tot 40 km per aand loop as hul aas geruik het en die reuk volg,” het Pienaar gesê.

“Hulle is nie geneig om mense aan te val nie, maar as hulle hondsdolheid het, raak hulle gedrag abnormaal.”

Sy raad aan inwoners is om hul vullis op ’n plek te bêre waar hiënas dit nie kan bykom nie.

Pienaar raai inwoners aan om die departement dadelik te kontak indien mense weer hiënas gewaar.

Mense kan vir Pienaar bel by tel. 082 809 8875 of die departement by tel. (014) 717 3567.

Janse van Vuuren se nommer is tel. 082 337 9635.

Related Articles

Back to top button