Gewilde Settlers-veteraantrekkerdag is net om die draai
Die gewilde veteraantrekker en –enjin opedag word weer op Saterdag 14 Maart by die Settlers-Agrimuseum gehou.
Trekkerliefhebbers wat weekliks byeenkom om ou trekkers en enjins weer op te bou, se stokperdjie het só gegroei dat die museum opgerig is om hul handewerk ten toon te stel. Die groep bestaan tans uit nege mans wat almal ouer as 70 is. Die museum spog met meer as 30 trekkers en dieselfde hoeveelheid enjins wat so na as moontlik aan hul oorspronklike toestand herstel is. Hulle enjins brul almal weer soos in die jare toet.
Die groep het die afgelope twee jaar verskeie van hul lede aan die dood afgestaan, waaronder stigterslid en voorsitter Robbie Weir. Die groep is dit eens dat dit moeilik is om sy skoene vol te staan en dat hulle sy leierskap en kameraadskap mis. Een van Weir se trekkers het juis so ’n paar jaar gelede op die “Working 400” by die Sandstone-saamtrek die prys as besgerestoureerde trekker by die byeenkoms gewen.
Dié groep trekkerliefhebbers het al wyd aandag getrek en het nie net in tydskrifte nie, maar ook op televisie verskyn. Die tydskrif Weg Platteland het oor hulle geskryf en ’n insetsel oor die groep wat op Kwêla verskyn het, is in 2019 aangewys as een van die tien beste produksies van die program.
Tyd vir stilsit het dié groep manne nie. Die museum bars uit sy nate en daar word hard beplan om uit te brei. Tien nuwe (ou) trekkers word deur behendige hande herstel en sal eersdaags staanplek nodig hê.
Maar dit is nie net die trekkers wat hulle besig hou nie. ’n Ou sendingkerkie wat op een van die plase gestaan het, is onlangs na die museumgronde verskuif en word in ’n museum omskep waar talle ou huishoudelike artikels en kleiner oudhede uitgestal gaan word. Die museum het ’n skenking van meer as 80 naaldwerkmasjiene gekry waarvan party dateer uit die 1800’s. Dié projek word deur die trekkermanne se vroue bestuur.
Sodra genoeg geld ingesamel is, wil die groep ook hul werkwinkel na die museumterrein verskuif. Wanneer hulle oudergewoonte elke Woensdag aan die trekkers en enjins werk, kan die museum en kerkie oopgestel word vir die publiek. Op dié stadium is die museum slegs per afspraak en tydens die jaarlikse opedag oop.
Die terrein is op Vrydag 13 Maart slegs oop vir uitstallers en vir die aflaai van trekkers en enjins. Die gemeenskap word op Saterdag 14 Maart genooi om van 08:00 tot 16:00 te gaan kyk na demonstrasies van hoe toentertyd se masjiene gelyk en gewerk het.
Die toegangsgeld is R50 vir volwassenes en kinders ouer as 13 jaar. Jonger kinders se toegang is gratis.
Daar sal verskeie kosstalletjies en ’n kontantkroeg beskikbaar wees.
Vir meer inligting bel vir Hannes van Heerden by tel. 082 651 2885. Vir navrae oor stalletjies bel vir Pieter Lubbe by tel. 073 197 3252 of vir Gerrit Fourie by tel. 082 387 5008. Uitstallers wat kampplek wil reël, kan vir Joost Pretorius bel by tel. 083 289 5298.