Vier ongelukke op een dag in Bela-Bela
Verskeie mense, waaronder skoolleerders, is op Maandag 24 Februarie vir noodbehandeling hospitaal toe geneem nadat daar in een oggend vier voertuigongelukke in die Bela-Bela-omgewing plaasgevind het.
Volgens sers. Frans Maponya, polisiewoordvoerder, het die eerste ongeluk ongeveer 06:30 op die Thabazimbi-pad naby die ou Outpost-ontwikkeling plaasgevind. Die bestuurder van ’n Toyota Hilux-bakkie het glo beheer oor die voertuig verloor en dit het omgeslaan.
Die bestuurder was alleen in die voertuig. Met die paramedici se aankoms is hy bewusteloos aangetref en vir noodbehandeling na ’n plaaslike hospitaal vervoer, het Maponya gesê.
’n Skoolbus het dieselfde oggend teen ongeveer 06:30 in die Langkloof-omgewing naby Vingerkraal die grondpad byster geraak. Die grondpaaie in dié gebied is bekend daarvoor dat dit in ’n baie swak toestand is.
Maponya het gesê hoewel die bus nie teen enigiets gebots het nie, het van die skoolkinders ligte beserings opgedoen toe die bus die pad verlaat het.
Nog ’n ongeluk het om ongeveer 09:40 op die Eersbewoond-pad op die laaste skerp draai voor die Klein-Kariba-kruising plaasgevind. ’n Huyndai-voertuig met drie insittendes het omgeslaan.
Maponya het gesê die bestuurder is ernstig beseer en sy twee passasiers het ligte beserings opgedoen.
Die vierde ongeluk het om 16:30 sowat 1 km voor die Mantsole-weegbrug in die rigting van Pretoria plaasgevind.
’n Trok-konvooi, wat glo onderweg was van Zambië, was aan die buitekant van die geel streep op die pad geparkeer. ’n Isuzu-trok het teen die agterste trok vasgery. Die bestuurder van die Isuzu (43) is op die toneel oorlede, het Maponya gesê. Teen druktyd was sy identiteit bekend, maar is dié inligting weerhou omdat sy familie nog nie van sy dood in kennis gestel is nie.
Die polisie ondersoek al dié ongelukke.