Local newsNews

Inwoners sê dit is net genade wat hulle dra

Chris en Esther staan bekend as die oudste inwoners van die oord en is al bykans 70 jaar getroud.

Die Pos het by Chris Limbach (92) en sy vrou, Esther (91), in die Renaissance aftreeoord in Bela-Bela gaan kuier vir ons maandelikse Brugbouer-rubriek.

Die egpaar staan bekend as die oudste inwoners van dié oord en is al bykans 70 jaar getroud.

Volgens Chris het genade en ’n aktiewe leefstyl baie hiermee te doen. Dit is volgens hom belangrik dat ouer mense aanpas by hul veranderde omstandighede. Die Pos het aan hom ’n paar vrae gevra.

Watter beroep het jy beoefen voordat jy afgetree het?
Ek was ’n passer en draaier en later voorman en superintendent van die destydse Pretoria-kragsentrale in Pretoria-Wes.

Waar is jy gebore en getoë en hoe lank woon jy al in die dorp?
Ek is op 17 Mei 1927 in Lichtenburg gebore. Ons het in 1937 na Pretoria verhuis en ná my aftrede in 1987 het ons op Droogekloof buite Bela-Bela gewoon. Ons woon sedert 1996 in Renaissance.

Wat is die grootste verandering wat jy in jou leeftyd beleef het?
Om ná my aftrede ’n rustiger lewe te lei en te boer.

Wat dink jy van vandag se jongmense?
Vandag se jongmense het meer voorregte om verder te studeer as wat ons gehad het. Hulle is derhalwe meer onafhanklik.

Wat is die een les wat die lewe jou geleer het?
Om sober en opreg te leef en jou verpligtinge na te kom.

Wat lees jy graag?
Ek lees graag van die ouer skrywers se boeke. Ek neem boeke by die kerk se biblioteek uit en lees natuurlik die plaaslike koerante om tred te hou met al die nuusgebeure.

Mense is so negatief oor die land, maar wat maak jou opgewonde oor Suid-Afrika?
Suid-Afrika het in die vorige eeu uitstekende vooruitgang gemaak. Ek glo en vertrou dat die huidige swak ekonomiese vooruitsigte met die regte leiding kan ver-
ander en dat dit tot ’n beter toekoms vir alle Suid-Afrikaners sal lei.

Wat was die mees onvergeetlike reis wat jy in jou lewe onderneem het?
Ons het die land platgereis met ’n karavaan en langer by die interessante plekke stilgehou om dit beter te leer ken. Dit was ’n voorreg om ’n toeris in Suid-Afrika te wees.

As jy jou hartsmense moet nooi vir ete, wat sal jy voorsit?
Boerekos met ’n glasie wyn.

Wie is jou kinders en kleinkinders?
Ons het twee dogters en drie seuns gehad, maar vier van ons kinders is reeds oorlede. Ons oudste dogter, Erna, is vir ons ’n groot vreugde. Verder het ons 11 kleinkinders en 10 agterkleinkinders. Ons is dankbaar teenoor ons hemelse Vader vir al die jare se lief en leed. Dit is net Sy liefde en genade wat ons dra.

Related Articles

Back to top button