Local newsNews

Geluk liewe Panjo, omdat jy verjaar

Een van die land se bekendste tiere, Panjo, het verlede week sy 11de verjaardag by sy tuiste buite Vaalwater gevier.

Pleks van verjaardagkoek, het hy gesmul aan sy daaglikse 8 kg vleis.

Panjo het in 2010 vir groot konsternasie en koerantopskrifte gesorg toe hy op pad veearts toe tussen Groblersdal en Bronkhorstspruit uit sy eienaars, Goosey en Rosa Fernandez, se voertuig ontsnap het. Die 17 maande oue tier is ná drie nagte en twee dae sowat 70 km verder opgespoor nadat groot soekgeselskappe, vliegtuie en snuffelhonde op sy spoor was.

Sy blydskap was groot om sy eienaars weer te sien. Die Fernandez-gesin besit Jugomaro Park wat eers in Groblersdal was totdat hulle die eiendom moes ontruim. Die gesin het in 2018, ná ’n tydperk in Krugersdorp waar die omstandighede nie gunstig vir die diere was nie, op die ideale stuk grond net buite Vaalwater afgekom en dit spesiaal vir hul groot katte ingerig. “Ons geniet Vaalwater se gemeenskap baie en voel reeds tuis hier,” het Rosa gesê. Panjo het by die Fernandez-gesin aangesluit nadat sy ma hom verwerp het.

Volgens haar deel Panjo sy tuiste met 16 groot katte wat leeus, tiere en rooikatte insluit. Daar is ook twee wolwe. Daar word nie met die diere geteel of verkoop nie. Die uitdrukking “so honger soos ’n leeu” maak sin as ’n mens hoor die katte vreet altesaam 120 kg vleis per dag. Inwoners is welkom om rooivleis te skenk om dié groot diere se aptyt te bevredig, het Rosa gesê.

Panjo was ook in die kollig vanweë sy ongewone vriendskap met sy groot vriend, Skye, ’n dapper Jack Russell-hondjie wat vir g’n kat skrik nie. Skye is ongelukkig dood nadat hy deur ’n slang gepik is. “Panjo en ons ander hondjie Milo was net sulke groot vriende, maar nadat ons getrek het, was die twee vir lank van mekaar geskei. Ons is nou versigtig om Milo weer in Panjo se kamp te laat gaan,” het Rosa gesê.

Jugomaro het, nadat drie van hul leeus en een tier vergiftig is, streng veiligheidsmaatreëls om hul diere te beskerm.

Related Articles

Back to top button