Local newsNews

Bekende kuierplek brand af

“Die Here is goed vir my. Ons is almal ongedeerd. Dit was wonderlik om te sien hoe mense omgee.”

Die eienaars van die bekende Hart n Bos Pub & Grill buite Bela-Bela het op Woensdagaand 19 Februarie magteloos toegekyk hoe dié kuierplek in ’n vuur verswelg word.

Hart n Bos, op die Thabazimbi-pad, was op die perseel waar Mfasas-restaurant voorheen was. Die geboue het almal grasdakke gehad.

Kliënte en personeel het die aand oudergewoonte by die kroeg gekuier. Karin Oberholster, eienaar, het aan Die Pos vertel ’n kliënt het laataand by die kroeg ingehardloop en geskree dat iets aan die brand is.

“Ons het eers gedink dit was ’n grap, maar toe ons die vuur se gloed sien, het almal ingespring en gered wat hulle kon.” Die brand het vermoedelik agter die kroeg ontstaan.

Sy het gesê hoewel gaste en personeel gereeld in en uit die kroeg beweeg het, het niemand gesien hoe die brand ontstaan het nie. Daar was glo vroeër die dag ’n kleiner brand by ’n stoorkamer, maar dié is gou geblus.

Oberholster, wat op die perseel gewoon het, kon daarin slaag om al haar troeteldiere uit haar wooneenheid te red. Persoonlike items soos haar kinders se foto’s, meubels, huishoudelike gebruiksartikels en haar klere kon nie gered word nie. Haar voertuig kon darem gered word.

Die hele ervaring was egter vir haar angswekkend.

Buurtwaglede en veiligheidspersoneel was gou op die toneel, maar met die aankoms van die munisipale brandweerdienste was die geboue reeds heeltemal verwoes. Niemand is beseer nie.

“Dié plek het so baie goeie herinneringe gehad en ons het baie ekstra werksure daar deurgebring om die plek op te bou. Ek het daardie aand in my voertuig op die perseel saam met my honde en voëls geslaap, met die hoop dat as ek wakker word dit net ’n slegte droom was. Dit was ’n aaklige gevoel,” het Oberholster gesê.

Die strukture is verseker en daar is reeds planne om die kroeg binne die volgende paar maande te herbou. “Die personeel is erg ontwrig en hulle sal geduldig moet wag totdat ons geriewe herbou is voordat hulle weer salarisse kan verdien,” het sy gesê.

Die ondersteuning uit die gemeenskap was oorweldigend met mense wat klere, kos en blyplek vir Oberholster aangebied het.

“Die Here is goed vir my. Ons is almal ongedeerd. Dit was wonderlik om te sien hoe mense omgee. Ek beplan om sterker op te staan en die plek beter en groter as tevore te maak.”

  • Sers. Frans Maponya, polisiewoordvoerder, het by navraag gesê die polisie ondersoek ’n saak van brandstigting.

Related Articles

Back to top button