Local newsNews

Teerpad in nywerheidsgebied is nou grondpad

“As ons die paaie kan herstel, sal ondernemings in die stede weer belangstel om hier te belê.”

Die stukkende teerpad in die nywerheidsgebied van Modimolle is opgekap en vir eers in ’n grondpad verander.

Dit is die eerste stap om die slaggatbesaaide teerpaaie in die nywerheidsgebied te vervang met plaveisel.

Sakelui kla jare lank reeds oor die pad wat aanhoudend versleg en ná reënbuie so te sê onbegaanbaar is. Van die ondernemings wat geskuif het, noem die swak paaie as een van die redes vir hul besluit. Van hul kliënte sê dat die pad onbegaanbaar vir gewone motors is.

“Sakelui het besluit om saam met die munisipaliteit te werk om die pad te herstel. Ons almal ervaar toenemende skade aan ons voertuie en dit kos ons duisende rande,” het Fernando Goncalves, een van die sakemanne, gesê. Die ondernemings wil graag die pad herstel omdat hul kliënte nie op die stukkende pad wil ry nie en omdat hulle groot skade aan hul vragmotors kry.

“Van die ondernemings het gesê dat hulle diesel, handskoene, kruiwaens en ander toerusting sal skenk. Ook dat hulle die salaris van ’n tegniese kundige sal betaal,” het hy gesê. “Die munisipaliteit is in beheer van die projek en verskaf die arbeid. Dit is alles te danke aan Marlene van Staden (burgemeester), Phumudzo Magodi (tegniese bestuurder), Eunice Ramuthivheli van die paaiedepartement en sakelui dat die projek uiteindelik kon afskop,” het hy gesê.

Volgens Goncalves probeer sakelui al meer as sewe jaar dat die pad herstel word. Dié kwessie word jaarliks op vergaderings vir die geïntegreerde ontwikkelingsplan, die munisipaliteit en die Waterberg-sakekamer bespreek. Daar is selfs al kwotasies verkry en kosteberekeninge gedoen, maar dit loop telkens op niks uit.

“Die nywerheidsgebied is belangrik vir die dorp en die munisipaliteit. Nie net is dit die grootste werkskepper nie, die gebied is ook die grootste verbruiker van dienste in die dorp — sekerlik 10% van die dorp se kragrekening kom uit dié gebied. Van die ondernemings se rekeninge beloop R400 000 per maand.”

Die projek sal in fases aangepak word. Volgens Goncalves verkies die regering om die teer met plaveisel te vervang omdat dit meer werk skep. Die onderhoudskoste op sulke paaie is ook laer. “Die koste om die teer te vervang, sou meer as R4,5 miljoen beloop het. Die plaveiselstene kos R800 000, maar arbeid is nie ingereken nie,” het hy gesê. Die ryoppervlak is dan 60 tot 80 mm dik teenoor 20 mm van ’n teerpad. Dit is glo makliker om te herstel en plaveiselpaaie se leeftyd is langer.

“As ons die paaie kan herstel, sal ondernemings in die stede weer belangstel om hier te belê. Modimolle is baie sentraal geleë as ’n verspreidingspunt. Ons is naby Marble Hall, Thabazimbi, Lephalale en Mokopane. Die huur hier is baie goedkoper as wat dit in die stad is,” het hy gesê.

Hy nooi ondernemings om hul gewig agter die projek te gooi. “Ons het reeds R150 000 wat beloof is. Dit sal net bestee word aan die munisipaliteit se uitgawes en word in ’n aparte rekening gehou.

“As hierdie projek suksesvol is, sal dit ’n goeie voorbeeld wees vir omliggende dorpe van hoe sakelui saam met die munisipaliteit kan werk om beter oplossings te kry,” het hy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button