Local newsNews

Kerkgroepe weer in mekaar se hare

Die spanning het verlede week weer opgevlam tussen lede van die kerkgroep International Pentecostal Holiness Church (IPHC) in Radium en Blaauwboschkuil.

Die ongelukkigheid hou verband met ’n ou twis tussen twee faksies oor eienaarskap van kerkgrond en het gelei tot ’n protesoptog en die verkryging van ’n uitsettingsbevel.

Volgens inligting van die kantoor van die balju in Modimolle is daar op Woensdagoggend 12 Februarie ’n uitsettingsbevel in Blaauwboschkuil uitgevoer nadat ’n groep mense glo onwettig op drie stukke grond geplak het. Die eienaars van die grond het glo bande met die IPHC.

Die uitsetting is uitgevoer in samewerking met Ben Rakgatho (Modimolle-balju), ’n private onderneming wat die mense ontruim het en die Bela-Bela-polisie wat die uitsetting gemoniteer het.

Sers. Frans Maponya, polisiewoordvoerder het gesê die uitsetting het plaasgevind op gedeeltes 51, 52 en 55 van die plaas 20 Blaauwboschkuil nadat ’n hofbevel bekom is om die onwettige inwoners te verwyder van die eiendom. Die ontruiming het sonder probleme verloop.

’n Protesoptog is op Vrydag 14 Februarie in Radium gehou deur lede wat ook met die IPHC geaffilieer is. Teen laatmiddag het die protesteerders voertuigbande op die teerpaaie geplaas en aan die brand gesteek. Hoewel vals berigte van geweld op sosiale netwerke versprei is, het Maponya bevestig dat geen aanrandingsake geopen is nie.

Lede van die Roodekuil, Turfbult en Langkuil-buurtwag (RTL) het die situasie in Radium dopgehou totdat die polisie opgedaag het. Motorryers is aangeraai om die gebied te vermy. Maponya het gesê daar was gewapende veiligheidswagte wat een kerkgroep veilig gehou het, maar hulle het gelisensieërde vuurwapens besit en het nie verkeerd opgetree nie.

Dit is tans onduidelik of die ontruiming in Blaauwboschkuil en die optog in Radium met mekaar verband hou. Die Pos het vroeg in 2019 oor die kerkgroepe se verskille verslag gelewer.

’n Kerklid is in Maart 2019 in Radium tydens ’n skietery gewond nadat daar ’n woordewisseling ontstaan het tussen die twee groepe oor die wettige eienaarskap van die grond.

Die man het die voorval oorleef.

Nog ’n man, Lepu Abel Matlanga (43), is in Mei 2019 in Uitbreiding 8 in die Bela-Bela-township doodgeskiet. Matlanga het ook volgens die polisie bande met die IPHC gehad.

Die polisie se ondersoeke duur voort.

Related Articles

Back to top button