Local newsNews

Werknemer en werkgewer het regte in werkplek

’n Aangename werkplek is nie net belangrik vir werknemers nie, maar kan ook die produktiwiteit van werknemers beïnvloed.

Die Pos kry gereeld navrae van die publiek oor stappe wat gedoen kan word indien hulle onregmatig by die werkplek behandel word. Ons het by die kommissie vir versoening, bemiddeling en arbitrasie (CCMA) gaan aanklop vir raad.

Amos Tshabalala, woordvoerder, het gesê die CCMA se doel is om arbeidsgeskille tussen werkgewers en werknemers deur bemiddeling op te los. Indien dit nie moontlik is nie, word daar deur ’n arbitrasieproses tot ’n vergelyk gekom en in sekere gevalle word sake na die arbeidshof verwys.

“Die CCMA kan op aanvraag opleidingsdienste bied en ons speel ’n rol om grootskeepse afdankings te verhoed. Die CCMA word ook ingeroep om protesaksies wat kan lei tot optogte te verhoed,” het Tshabalala gesê.

“Indien ’n werknemer ontevrede is met omstandighede by die werk, is die eerste stap om dit intern te probeer oplos. Rekordhouding is baie belangrik. Teistering in die werkplek kan tot onregverdige diskriminasie lei en die werknemer het die reg om ’n dispuut na die CCMA te verwys.”

Die betrokke werknemer moet dan ’n verwysingsvorm, ’n LRA 7.11-vorm voltooi en dit aan die werkgewer en CCMA gee. Die werknemer moet kan bewys dat hy of sy die vorm aan die werkgewer oorhandig het. Die verwysingsproses moet binne ses maande afgehandel wees, het Tshabalala gesê.

“Die CCMA hanteer ook sake waar ’n werknemer nie betaal of minder betaal is as wat ooreengekom is volgens hul dienskontrakte. In sulke gevalle moet die werknemer ook ’n LRA 7.11-vorm voltooi en aan die werkgewer en die CCMA stuur, met bewyse dat die werkgewer dit ontvang het.”

Hy het voorts gesê waar werknemers onregmatig afgedank is, moet die saak binne 30 dae verwys word en sake van onregmatige arbeidspraktyke binne 90 dae.

’n Verhoordatum word vasgestel met al die partye teenwoordig.

“Dit is raadsaam om voorbereid te wees. Mense moet hul werkskontrakte, afskrifte van salarisstrokies, die presiese aantygings wat gemaak is en die uitslae van interne prosesse saambring. Daar word vereis dat al die partye teenwoordig moet wees tydens die arbitrasieproses.”

Die kommissaris, wat die tussenganger is, bepaal dan of daar wel onregmatige praktyk was of nie.

Die CCMA reël normaalweg ’n bemiddeling binne 30 dae. Die werknemer het 90 dae tyd om ’n aansoek om arbitrasie te bring, het Tshabalala gesê.

Werkgewers en werknemers kan hulself gerus vergewis van die onderskeie arbeidswette — die wet op billike indiensneming, die wet op basiese diensvoorwaardes, asook die wet op arbeidsverhoudinge.
Die CCMA bied sy dienste gratis aan en staan as ’n onafhanklike party in die proses, het Tshabalala gesê.

Die vorms kan afgelaai word op hul webwerf by www.ccma.org.za/Advice/CCMA-Referral-Forms(.)

Die CCMA het kantore in elke provinsie. Vir navrae kan mense hulle van Maandae tot Vrydae tussen 08:30 en 17:00 kontak by tel. 086 116 1616.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button