Local newsNews

Trauma nadat leeus 21-jarige verskeur

Hulle het albei opgemerk dat twee van die leeus skielik aan die anderkant van die draad begin het om Van Wyk te bekruip waar sy in ’n hurkende posisie gesit het.

Die skok en trauma het vandeesweek vlak in Carla Claassens (22) van Bela-Bela se oë gelê nadat twee leeus haar vriendin, Swané van Wyk (21), op Donderdag 6 Februarie voor haar oë verskeur het.
Swané was die wildbestuurder van die Zwartkloof-natuurreservaat buite die dorp.

Claassens is ’n deeltydse student en werknemer van Medlin Apteek in die dorp. Sy het aan Die Pos vertel dat sy en Van Wyk mekaar einde verlede jaar ontmoet en net dadelik “gekliek” het. Sy het gereeld vir Van Wyk op Zwart-kloof gaan kuier en was by twee ander geleenthede by waar Van Wyk een van die leeumannetjies gevryf het. Van dié reservaat se leeus is met die hand grootgemaak en later in kampe geplaas.

Volgens Claassens was sy die betrokke dag met verlof en het Van Wyk haar genooi om op die reservaat te kom kuier. Van Wyk het laatmiddag voorgestel dat hulle gaan kyk of alles reg is by die leeukamp. Van Wyk het opgemerk dat een van die waterkrippe ’n toevoerprobleem het en sy het teen die draad gehurk om ’n pyp te las. Hulle het albei opgemerk dat twee van die leeus skielik aan die anderkant van die draad begin het om Van Wyk te bekruip waar sy in ’n hurkende posisie gesit het.

Die twee vroue het daarna na die hek toe gery, waar Van Wyk die mannetjie deur die draad gestreel het. Die wyfie was egter lastig en wou die mannetjie nie alleen laat om uit te kom in die buffersone, waar Van Wyk al tevore aan hom gevat en hom gestreel het nie. Die twee het besluit om te ry, maar terwyl hulle in die voertuig was, het Van Wyk gesien dat die mannetjie alleen by die hek lê en sy wou vir oulaas terugdraai om hom te streel. Sy het weer uit die voertuig geklim en in die leeukamp gegaan. Claassens het buite die kamp in die motor bly sit.

Die gebeure daarna het binne ’n oogwink in ’n verskriklike nagmerrie ontaard. Volgens Claassens het die mannetjie heeltyd vir Van Wyk teen die draad gestamp en na haar gehap, waarna sy hom hard op die neus geklap het. “Sy het vir my gekyk en ek het vir haar gesê: ‘Moenie hardloop nie’. Ek dink Swané het begin paniekerig raak, want sy het ’n klein kreungeluidjie gemaak. Die volgende oomblik het die mannetjie haar platgetrek. Die wyfie het haar daarna ook aangeval.

Claassens het die hek oopgeskuif en met die voertuig tot by die leeus gery. Sy het die motordeure oop-en-toe geklap, die toeter geblaas en die wyfie met die motor probeer wegstamp. Die leeus wou egter nie laat los nie en Claassens het besluit om te gaan hulp soek by die stoor en woonkwartiere op die reservaat.

“Swané het so ’n positiewe uitkyk op die lewe gehad. Sy het baie gelag en ’n unieke humorsin gehad. Sy was baie lief vir die Zwartkloof-leeus en vir die natuur,” het Claassens in trane gesê.

Die twee vriendinne het juis twee dae voor die tragedie saam die olifant-interaksie by die nabygeleë Zebula-reservaat onderneem.

André Niebuhr, regsadviseur van Zwartkloof, het by navraag gesê Van Wyk het sedert einde 2018 op die reservaat gewerk en is as ’n uiters bekwame wildbestuurder beskou. “Sy was regtig fantasties met die diere en het op ’n jong ouderdom reeds al die nodige kennis gehad om met dié diere te werk,” het hy gesê.

Niebuhr sê die leeukampe is destyds op ’n afgeleë plek op Zwartkloof, met streng veiligheidsmaatreëls, ingerig. Slegs Van Wyk en die reservaat se ander algemene wildbestuurder het direkte toegang tot die kampe gehad. Besoekers kan nie die leeukampe sonder toestemming bereik nie, het hy gesê.

“Dit is bemoedigend om te hoor dat mense op sosiale media wonderlike herinneringe van haar geplaas het.”

Van Wyk se stiefpa, Willie van Wyk, het aan Die Pos gesê dit was ’n voorreg om ’n kind soos Swané se ouer te wees. “Ons mis jou klaar ongelooflik baie. Niks sal jou ooit kan vervang of jou plekkie kan vul nie. Jy was awesome,” het hy gesê.

Haar begrafnis vind op Vrydag 14 Februarie om 11:00 in Vereeniging plaas. Sy laat haar ouers, Willie en Carla van Wyk, en ’n boetie, Henco, agter.

Die polisie het intussen ’n geregtelike doodsondersoek geopen.

Claassens se ouers, Willie en Liza Claassens van Bela-Bela, het hul diepste meegevoel met Van Wyk se ouers en familie betuig. “Ons is verpletter deur die gebeure en bid vir Swané se geliefdes vir genesing ná hierdie tragedie. Mag God hulle vertroos,” het die Claassens-egpaar gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button