Local newsNews

Leerders beseer in busongeluk

Agt leerders het kneus- en skraapmerke opgedoen, maar niemand is ernstig beseer nie.

’n Groep leerders het op Dinsdag 4 Februarie ’n noue ontkoming gehad nadat die skoolbus waarin hulle gery het buite Bela-Bela in ’n ongeluk betrokke was.

Sers. Frans Maponya, polisiewoordvoerder, het by navraag gesê die skoolbus, wat 35 leerders en ’n paar onderwysers vervoer het, was op pad na ’n geleentheid wat deur die departement van gemeenskaplike ontwikkeling in Modimolle aangebied sou word. Die leerders is van die Heuningvlei Primary School in Thabazimbi.

’n Band het vermoedelik op die S-draai naby die Hartelief-kwekery op die Thabazimbi-pad, net buite die dorp, gebars en veroorsaak dat die bus die pad verlaat en deur ’n heining en bome geploeg het.

Maponya het gesê agt leerders het kneus- en skraapmerke opgedoen, maar niemand is ernstig beseer nie.

Die polisie het intussen ’n saak van roekelose en/of nalatige bestuur teen die busbestuurder geopen.

Die skool het in reaksie aan Die Pos gesê hulle is dankbaar en geseënd dat hul leerders niks oorgekom het nie en sal hulle volle samewerking aan die polisie gee met die ondersoek.

Die polisie het intussen skole en beheerliggame gemaan om hul voertuie gereeld na te gaan.

Related Articles

Back to top button